Jors was al douvoordag in ’n toestand na hy ’n rugbywedstryd in die kroeg gaan kyk het. Sou jy hom dalk sien op pad huis toe sou jy sweer ’n systap kort-kort ’n onsigbare teenstander. Kompleet met sy beursie wat hy soos ’n rugbybal onder sy arm invou.
Soos die noodlot dit wou hê lê die drankwinkel netjies tussen die kroeg en sy huis. Jors kon nie anders as om in te gaan nie. Hy was in ’n goeie luim, soos hy altyd is as ’n Suid-Afrikaanse span in Nieu-Seeland wen. Sy beursie is dolleeg as jy sou note soek, maar dit laat sy kredietkaart net meer helder blink. Dit stem hom net daar om ’n duur seldsame brandewyn te koop.
So is hy vort, nou met die bottel as sy rugbybal. Sy systappe neem hom soms van die sypaadjie na die pad en dis hier wat die noodlot hom tref. Dit is in die vorm van ’n koerantjoggie op sy bromponie wat te vinnig na Jors se sin om die draai kom.
Toe Jors dit uiteindelik regkry om regop te kom voel hy sy hemp hier onder sy arm aan hom kleef. Dis nat.
“Ag, Here,” kreun hy. “Ek hoop dis bloed.”
