Ek beskou myself as ‘n redelike getroue landsburger, dalk so effe van die pad of met tye, maar vir die grootste deel, hou ek my by reëls en regulasies.
Dit gesê, moet ek ook byvoeg dat ek maar soos meeste mense belangstel in die bonatuurlike, daardie onverklaarbare vrae waarvoor geen mens ‘n antwoord het nie. Maar ek moet ook net duidelik wees dat ek nou nie verwys na onbenullige vrae soos, “Wat voel skoenlappers in hul maag as hul bang is nie.” Ek praat van ernstige dinge of soos die Engelse sal roep, Conspiracy Theory. Nou as jy nie tans sit nie, sal ek voorstel jy sit nou, want wat ek met jou gaan deel is so ’n Conspiracy Theory. En dit gaan jou heel moontlik in jou wese skok, want die ding is groot. En dit gebeur oral. Selfs nie ver van waar jy bly nie. Ek praat van die kakhuis by die mall.
Ek meen, my donner! Het jy al probeer om te gaan skyt in so ’n mall? Nou ek moet op hierdie stadium uitwys, vir die uitsluitlike doel van feitelike korrektheid, dat ek self eers skepties was. Maar deeglike navorsing (wetenskaplik natuurlik), het my onteenseglik oortuig dat my vermoede tog nie so vêrgesog is nie. Nou teen hierdie tyd is jy seker al op die punt van jou stoel om te probeer kop uit maak waarvan ek praat. Wel liewe vriend, daar is geen sagte manier om hierdie nuus te bring nie, so ek gaan dit net uitspoeg. Daar is ’n geheime kampeerplek in die kakhuise by die mall.
Nou daar is geen rede om op hierdie stadium emosioneel te raak nie, alhoewel ek weet dat die nuus moeilik is om te verwerk. Maar dit is my oortuiging dat daar onder ons geledere ’n kultuur van kakhuis-kampeerders is. Dis reg liewe vriend, ons het tussen ons ’n klub, ’n geheime beweging wat kampeer in die kakhuise van ons malls. Jy kan nou maar enige tyd van die dag daar opdaag om te gaan klei-ossies bak, en jy sal al die dônnerse deure toe kry. En jy moenie dink dat jy kan staan en wag nie, want daai deure gaan nie beweeg voordat die kakhuis-kampeerder die poorte na die wêreld van Narnia oop het nie.
Ek het op geleentheid juis voor so ‘n deur gestaan en vir veertig minute na twee episodes van The Simpsons geluister. Toe ek klop was daar geen antwoord nie. Ek moet op hierdie stadium sê dat dit nie altyd stil is as jy klop nie. En dis hier waar dinge verdiep. So gun vir my nou so minuut om jou te vergewis van hoe diep hierdie rabbit hole nou eintlik gaan. Dit is my teorie, en daarvan is ek byna 100% seker, dat die stem wat jy van anderkant die deur hoor wanneer jy klop, ‘n vooropgestelde opname is om jou te flous. Sodra jy dan klop, aktiveer die meganisme en speel die band terug, en dit is gewoonlik een of ander onverstaanbare mompel. My vriend, wat jy daar hoor is die geheime kakhuis-kampeerder kodewoord. As jy dan nou reg antwoord sal hy seker maar die deur vir jou oopmaak, maar ek is nou nie een vir kanse vat nie so ek bly maar stil.
Nou wat binne hierdie kakhuise aangaan, is ek nie werklik seker van nie, maar ek het wel een of twee gedagtes daaroor. Kyk, alleen kamp is ook nou nie lekker nie. Dit maak net sin dat die kampeerders op een of ander wyse met mekaar in verbinding is. Ek het nou al self die kakpot die kant en daai kant toe probeer trek om te soek vir ‘n tonnel van een of ander aard. Maar ek moet bieg dat tensy hulle deur die water gaan, ek nie kop of gat kan maak van die besigheid nie. Dalk is dit hoekom hulle so lank vat om uit te kom, want wie wil nou deur die mall loop met nat hare?
Ek moet ter afsluiting sê dat dit ongelukkig my navorsing tot op hede in totaliteit vervat. As ek meer gaan sê sal dit blote spekulasie moet wees. Ek het self nou nog nie so ’n kakhuis-kampeerder in lewende lywe gesien nie want hulle kom nooit fokken uit nie, en ek is dan oorgelaat aan die lot van, in my broek kak terwyl ek vir hom wag, of huis toe te jaag. As daar dalk van julle is, my liewe vriende, wat lank genoeg kan wag vir een om uit te kom, neem asseblief ’n kiekie wat ek by my navorsing kan heg. (Natuurlik op eie risiko, want ons weet nie of hulle gevaarlik is nie.)
Klink dit vir jou alles bietjie verregaande? Nou kom ons kyk of jy kan verduidelik waarom die deure altyd toe is by die kakhuis in die mall.
(Vrywaring: Geen kakhuis-kampeerder is beseer gedurende my navorsing nie, alhoewel dit ‘n paar keer donners amper was.)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ek het nou nie aan n deur geklop nie. Ek dink aan die ou se se gesprek aan die ander kant van die deur.
Met n vette wat hy so knyp-knyp, stilletjies wil uit kry, want hy gaan val soos n petrol-tenker van n hoë brug in n diep dam in. En nou wil n vreemdeling met hom fokken praat.
Hahaha.
Nee wat.
Ek gaan kak dan by McDonalds.
Maar.
Waar ek wel saam stem is dat ek nog amper nooit n leë stalletjie tee gekom het nie.
Hmmm.
Gratis wi-fi miskien?
Dit kos jou minder tip dalk in die kakhuis as in die mall?
SME besigheidsontwikkeling op gratis wi-fi agter die kakhuis deur. That’s my theory and I’m sticking to it.
And Christo, my man, you go dig deep and expose the truth, in all its smelly glory! Love jou writing, buddy!