Koos besluit dis weer tyd dat hy van beroep verander en die bediening roep … geïnspireer deur elke tentmaker wat rondrits in ’n luuksemotor.

So sak Koos se tentmakersbediening oornag toe op ’n dorp en die volgende oggend vroeg skree prediker Koos moord en brand.

Al wat leef en beef is daar. Meer om te kyk as om te luister. Hoe op dees aarde gaan jy nou saampraat as jy nie self daar was nie.

Uiteindelik breek die groot oomblik aan, Koos kondig aan hy is gereed om alle skete en kwale te genees.

Eerste aan die beurt is ant Susarie. Die tannie is horingoud en skuifel-skuifel verhoog toe met die vreeslike krom lyfie wat op haar kierie steun. Almal op die dorp ken die tannie met die krom lyfie. Koos se assistent, Jors, help die tannie op die verhoog.

Koos maak die tannie leuen op haar kierie terwyl hy haar met ’n kombers toegooi. Hy lê sy een hand op haar terwyl die ander ongesiens onder die kombers inglip. Skielik ruk Koos die kombers af met ’n groot lawaai en daar staan die tannie, kietsregop. En so regop loop sy deur die tent tot groot verbasing van die dorp se inwoners. Die kolletebordjies loop oor.

Niemand is so verbaas soos Jors nie. “Hoe de hel het jy daai reggekry?” fluister-vra Jors wat nou met nuwe oë na Koos kyk.
“Maklik,” fluister Koos “ek het net vir haar ’n langer kierie gegee.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply