(soos vertel deur Koos van der Merwe)
Nou ek kom 04h00 die nag daar aan en ek maak die vensterrame versigtig los. Ek maak die werweltjie los en skuif die groot houtraamvenster heel oop tot bo. Maar dit is nou pik-pik donker en ek steek nou my been so in om bo op die wye vensterbank te trap.
Intussentyd het my ma ‘n hengse skottel vye vir omtrent 15 liter vyekonfyt gekook. My ma het dit op die vensterbank gesit sodat dit lekker koel kan bly in die nag. Man, maar ek weet toe niks van die skottel vyekonfyt nie. En toe ek nou met my voet so intrap, toe trap ek nou en die trap en die oorswaai is nou een beweging. Toe ek trap, met die beweging, trap ek natuurlik nou die emmer konfyt heel af, laat hy in die kamer neerslaan. En ek val en die emmer vyekonfyt val bo-oor my uit. Toe ek so opkyk toe loop die vyekonfyt nou oral van my lyf af en my hare en ek is heel vol konfyt. Die volgende wat ek sien is, daar staan my ou kêrel in sy nagjurk, haelgeweer in die hand, reg om te skiet. Hy wil hierdie inbreker wegvat. Toe is dit ek!
Die ou kêrel het toe nie geskiet nie, maar ek het wel ses van die bestes gekry, omdat ek my ma se vyekonfyt heel verniel, totaal en al vernietig het.

