Oupa en die dokter

(soos vertel deur Koos van der Merwe)

My pa het ‘n stuk koring onder besproeiing gehad. Elke oggend vieruur kry hy ‘n waterbeurt, dan moet hy nou opstaan en die koring besproei.

Die winter was maar lank die jaar. Die ou kêrel het toe so ‘n hoesie ontwikkel maar hy wou nie dokter toe gaan nie. Op ‘n kol kom my oom daar toe by hom. My ma sê toe: “Vat tog hierdie broer van jou dokter toe, kyk dat hy by die dokter ingaan. Laat die dokter hom ondersoek en vir hom medisyne gee vir hierdie hoes, want hierdie hoes begin nou kronies raak en hy wil nie dokter toe gaan nie.” My oom sê toe nou maar goed, ek sal sorg dat hy by die dokter uitkom.

My oom vat hom toe in en die dokter skryf vir hom ‘n voorskrif. In daardie tyd was daar nie ‘n apteek nie, die dokter self gee hom toe pille. Die dokter gee hom toe 100 pond se pille. Daai tyd was dit ‘n vreeslike klomp geld. Hy sê toe my pa het longontsteking. Hy moet hierdie klomp pille drink om gesond te word. My pa vat toe die pille en hy stap uit.

Net buite die dokter se spreekkamer is daar so ‘n leivoor. Net toe hy so reg voor die leivoor kom haal hy die 100 pond se pille uit. ‘n Hele kardoesie vol pille gooi hy toe uit daar in die leivoor. Daar gaan die pille af. My oom vra toe vir hom: “Broer wat maak jy nou? Dit is 100 pond se pille! Dis baie geld daai!” My pa sê toe: “Ja my maat, die dokter moet leef en ek ook!”

Koos van der Merwe (regs) en ander bekende grapjasse
Koos van der Merwe (regs) en ander bekende grapjasse

Lewer kommentaar

Leave a Reply