Argiewe van verlies en verlange
Emma Willemse se omvattende kunsprojek van 101 kunstenaarsboeke het vyf jaar geneem om te voltooi en spreek van ervarings wat nóg langer neem om te verwerk
– van verskuiwing en die verlies van ’n woning, iets wat miljoene Suid-Afrikaners deur eeue heen beleef het.

Die boeke het ou parketvloerblokkies as omslae en is gevul met tekeninge, drukkuns en collages wat die ervaring van jou huis verloor dokumenteer en verwerk. Elke blokkie wat as boekomslag ingespan is, het eens nederig diens gedoen in ’n woonhuis, die plek waar so baie mense en gesinne se intieme lewenservarings plaasvind.

Die stukkies hout is fragmente, maar verbeeld nogtans ’n magdom ervarings en is, soos die prente en illustrasies in die boeke, die sleutel tot ’n baie groter verhaal van lief en leed. Die boeke vorm as’t ware ’n (onvolledige) argief van herinneringe en die omslae en prente vertel nie volledige stories van voor tot agter nie. Dit is los versamelings oorblyfsels, ’n gebroke, onvolledige opgawe wat wys dat kennis en geheue, wat trauma en verlies probeer verwerk, gewoonlik broos, kompleks en veranderlik is.

Emma Willemse is die 2018 feeskunstenaar van die Woordfees.

Met: Emma Willemse

Genre: Kuns
Ouderdomsbeperking:
Kaartjies: Gratis
Plek: US Museum, Stellenbosch
Datum: 2 – 11 Maart 09:00 – 18:00
Woordfees 2018


Argiewe van verlies en verlange

Argiewe van verlies en verlange


2.5

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar