Liza Grobler skep ’n ruimte waarin tyd en plek uitbundig huppel bo-oor die grense van realiteit. Die uitstalling kombineer visuele elemente uit die omliggende Klein Karoo-landskap met mondelinge oorvertellings uit die streek. Die narratief is gebaseer op die waarheid, losweg verweef met verdigsel. Want wat anders is waarheid en leuen as twee perspektiewe op dieselfde saak?

Die geïmpliseerde karakters is almal randeiers. “Inkommers” verwys namense wat ’n ruimte betree waarin ander lank reeds gevestig is. Daar is dikwels die beskouing dat diegene nie waarlik “behoort” nie, omdat hul nog nie genoeg tyd in ’n ruimte deurgebring het nie.

“Laatkommers” is diegene wat opdaag ná ’n ooreengekome afsnytyd. Diesulkes skat skynbaar tyd gering, of onderskat die ritme van tydsverloop. “Laatlammers” het dikwels versagtende omstandighede, aangesien hul posisie nie weens hul direkte verontagsaming van tyd veroorsaak is nie. Tog suggereer dit ’n byna “toevallige ongemak” sowel as ’n onwillekeurige vreugde.

Tyd is min. Tyd is kort. Maar soms is tyd baie lank. Veral as ’n mens wag op groot nuus… Plek en tyd. Is dit vas aan mekaar? Kan die een die ander agterlaat?

Soos dinge, is ruimtes nie stagnant nie. Dit groei, dit verander, dit omvorm. ’n Ideale ruimte is dalk ’n onstabiele een, want wanneer ons ongemaklik is, vra ons meer vrae.

Grense is daardie grinterige sisteme wat sommiges in- en ander uithou. Maar “binne en buite” is nie so klinkklaar nie. Wie het die reg tot ruimtes? Wie eien hulle dit toe? Om te “behoort” is eintlik netverhulde arrogansie. Die siel laat hom nie inperk nie.

Grobler en haar gesin het hulle slegs twee jaar gelede in die Klein Karoo gevestig en die kleure en teksture van die fisieke landskap, asook die strominge tussen verskillende groepe binne hierdie ruimte, vorm die inspirasie. Skilderye, weefwerke en beligting dra by tot die ervaring. Grobler nooi die kyker om op hul eie tyd ’n visuele ontdekkingsreis te onderneem en geselsies aan te knoop met die werke, die mense en die plek.

1 April 2023, 09:00

2 April 2023, 09:00

3 April 2023, 09:00

4 April 2023, 09:00

5 April 2023, 09:00

6 April 2023, 09:00

7 April 2023, 09:00

8 April 2023, 09:00

9 April 2023, 09:00

Venue

Prince Vintcent-gebou, Oudtshoorn

KKNK

Lewer kommentaar

Leave a Reply