Die Suidoosterfees en die Breytenbach Sentrum bied van 4 Desember 2021 tot 20 Januarie 2022 ’n kunsuitstalling, Mas / Masker / Maskerade, op Wellington aan. Die opening vind op Saterdag 4 Desember om 11:00 in die Breytenbach Galery plaas.

Die verskynsel van maskers tydens die wêreldwye pandemie word deur kunstenaars verken. Kunswerke wat uitgestal en te koop sal wees is geskep deur Liza Grobler, Theresa Jo Wessels, Jan Barend Wolmarans, Rowland Daniëls, Louise Gelderblom, Rose Gelderblom, Konrad Ross, Alexander Laurean, Susan Smuts, Ann Pretorius, Diane McLean, Joubert Stander, Nadine Hansen, Jacques Dhont, Norman O’Flynn, Lindy Kriek, Neelan Naidoo, Desireé Malan, Susan Bloemhof en Kobus Coetzee.

Tydens die Covid-19-pandemie het “masker” een van die mees gebruikte woorde op feitlik alle mense se lippe geword. Kwessies rondom die dra van maskers, vermomming, inperking, beskerming, veiligheid en vryheid word in die kunswerke uitgebeeld.

Volgens Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach Galery, sukkel baie mense, veral kunstenaars, om die mas op te kom as gevolg van die pandemie-inperkings wat ontwrigting in die bedryf meegebring het. “Die pandemie het die mensdom soos ’n dief in die nag bekruip, en vandag lyk die wêreld soos iets uit ’n wetenskapfiksierolprent. Met hierdie in gedagte, het ons kunstenaars genooi om die absurditeite wat met die inperkingsreëls gepaard gaan, kreatief te verreken.” Toegang tot die uitstalling en die opening op 4 Desember om 11:00 is gratis.

Nadine Hansen se Veiled is een van die kunswerke wat in die Suidoosterfees en die Breytenbach Galery se uitstalling, Mas / Masker / Maskerade, te sien sal wees.

Lewer kommentaar

Leave a Reply