10 000 myl

Na 17 jaar en die spreekwoordelike 10 000 myl wat die drie Snyman-broers uit onderskeie omgewings in die musiekindustrie geloop het, is hulle jongste album nou beskikbaar.

Die Broers – Christo en Cobus Snyman en Nic Stevens – se nuutste CD, 10 000 myl, is op 1 September in ‘n stampvol Barnyard-teater in Kaapstad bekend gestel.

“Waar broers in harmonie saamsing, word die musiek na ‘n volgende vlak geneem,” verduidelik ouboet Christo Snyman. Die album spog met 18 liedjies, waarvan Nic Stevens sewe liedjies geskryf het en Christo drie.

Musieklegende David Kramer het sy treffer, “Alleen”, verwerk in ‘n nuwe weergawe wat die Broers nou opgeneem het.

“Magersfontein”, uit Christo se pen, vertel die verhaal van die veldslag by Magersfontein waar ‘n handjievol boere geveg het … “vir die grafte van ons vaders en die kinders van ons seuns”.

Nic se “Facebook” beloof ook om gou baie gewild te wees, die lirieke kompleet vol Facebook-taal.

Die Broers span in twee liedjies kragte saam met die Bala-broers – “Peace Train” en “Broers/Bala Medley”.

Christo, Cobus en Nic druk ook hulle unieke stempel af op die reeds bekende liedjies, “Take me where the sun is shining” (Ewald Coleske / André Swiegers) en “Hallelujah” (Leonard Cohen).

10 000 myl is die tweede album van die Broers. Hulle sing reeds sedert 2006 saam en hulle debuutalbum, Huistoe, het goue status behaal met verkope van meer as 20 000 eenhede.

Die Broers het ook vir die eerste buitelug-DVD in Afrikaans gesorg toe Broers: Tussen sterre in 2007 bekend gestel is.

Die DVD van 10 000 myl word in Maart 2010 op die winkelrakke verwag.

Al die Broers se albums word by Snyman Musiekproduksies (SMP) opgeneem, wat aan die drie Snyman-broers behoort. Cobus het vir die finale meng van 10 000 myl gesorg.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar