44 Jongste Gunstelinge

Dis daardie tyd van die jaar: vakansie, kleintjies wat besig gehou moet word, lang reise, Kerspersente. Miskien is Nádine se jongste vrystelling die antwoord op al hierdie lekker probleme. Veral noudat die FAK Volksangbundel nie meer so algemeen in Afrikaanse huise gesien word soos vroeër nie, is dit goed dat talentvolle jong stemme soos Nádine nog lewe blaas in tradisionele liedjies soos “Aai aai die witborskraai”, “Suikerbossie”, “Die Alibama”, “Saai die waatlemoen” en “Vader Jakob” – al is dit dan in keurspelvorm. Daar’s min van die snitte waar Pa, Ma, Ouma en Ouma nie ook sal kan saamsing nie en dan’s die lang Karoopad mos gou agter die rug.

“Die Lappop” is daar, “Dapper muis”, “Pinocchio”, “Oupa se ou Ford” en “Wielie Walie”. Maar ook bekende Engelse deuntjies soos “Three blind mice”, “Here we go round the mulberry bush” en meer onlangse treffers soos “Lion King” se “Can you feel the love tonight”. En die kinderstemme wat saam met Nádine sprankel behoort aan die kleintjies van Laerskool Stephanus Roos.

Daar’s twee verrassing op die album: agtergrondmusiek vir ‘n hele paar treffers wat jou klein sterretjie sal kan gebruik vir sy of haar eie konsert (en miskien kan Pa selfs ‘n karaoke uitdaging aanvaar en “Die ABC” of “Sjakedoem sjakedoem” pak). En daar ‘n vorm op die omslag wat mens kan invul om lid te word van Nádine se bewonderaarsklub.

Nádine het in 1996 haar buiging gemaak met Krappies en krefies en sy spog reeds met twee goue albums, ‘n musiekvideo, meer as 500 vertonings en ‘n oorsese uitreiking. Haar bestuurder Ian Bossert van Europe Africa Music sê ten spyte van haar sukses bly sy steeds onopgesmuk, natuurlik en ‘n ster. Nádine sê self dat sy skaars kan glo wat haar alles die afgelope vier jaar getref het en dat dit haar liefdie vir kinders van alle ouderdomme is wat haar laat besluit het om 44 Jongste gunstelinge uit te reik.

Lewer kommentaar

Leave a Reply