Sand en sproei vir Francois en Nicole

Akteurspaar Francois Toerien en Nicole Holm speel Suid-Afrikaanse verhoë aan die brand. Oor hulle onderskeidelike vermoëns is daar al baie geskryf.

“Verbysterend” (toneel impresario Albert Maritz), “eenvoudig briljant” (Elretha Britz, kunsredakteur). Die lys is lank.

“Ons verhouding het begin in teater toe ons mekaar in matriek ontmoet het by die Breugel-teater op Stellenbosch as deel van ‘n gemeenskapsprojek”, gesels Francois. Toe later Grahamstad. Dus is ons verhouding diep gewortel in die teater. Ons leef vir mekaar en die teater.

” Die toneelstuk Pas de deux (Hugo Claus) was in Julie een van die Volksblad Kunstefees se drama hoogtepunte in Bloemfontein. Die stuk speel af tydens ‘n repetisie in ‘n kleinteater en gevolglik is dit spel binne spel. Die drie karakters, Gerard, Mia en Dickie is vertolk deur Nicole Holm, Johann Nel en Pieter Retief. Juanita Swanepoel was die regisseur en Jan Evertse het die vertaling gedoen.

Elretha Britz, kunsredakteur van Volksblad skryf, “die gemaklikheid waarmee Holm haar karakter omlyn, ragfyn nuanses deur net ‘n manier van kyk, verplaas jou ‘n anderhalf uur lank na Mia se sielsbestaan.”

Francois Smith (Burger) skryf, “die dramatiese element berus in groot mate by die vervloeiing van grense op ‘n breë front, ook die vervloeiing van die rasionele, en dit stel besondere eise aan die spelers. Maar hier sien jy dan hoe Johann Nel deur die grense speel wat jy aan sy spel veronderstel het – deur die rasionele, deur tegniek, tot bitter naby die onbeskryfbare chaos wat Claus se teks voor oë roep. Dat Nicole Holm in hierdie rol sou gedy, is nie ‘n verrassing nie, ook nie dat die emosionele toonaard van die drama by haar sou berus nie. Maar hier raak jy bewus van ‘n soort intelligensie wat keer op keer beantwoord aan die emosionele kompleksiteit wat die teks vereis. Pas de deux, letterlik dans vir twee, is ‘n drama binne ‘n drama, die tegniek by uitstek vir die lewer van kommentaar op die kunsvorm self. Claus se drama is dan ook, in sy woorde, kommentaar op ‘dat onbegrijpbare verschijnsel dat teater is’, maar terselfdertyd sê dit iets oor die (groter?) onbegrypbaarheid van die lewe.”

Holm het ook die rol van Maria vertolk in Astor Piazzolla se opera Maria de Buenos Aires. Piazzolla het die sielvolle opera in 1968 geskryf tydens die stormagtige jare van een van Argentinië se militêre diktatorskappe.

Buiten toneel, kan haar stem gehoor word op albums soos Perd oor die Maan (die toonsetting van ‘n Sheila Cussons gedig ‘n Kleindorpse Fragment) en Eve . . .In the Garden of Song.

Hulle gesamentlike liefde vir die teater en die gemak waarmee hulle saam optree was merkbaar in die toneelstuk Jan en Jorie oor nog ‘n kunstenaarspaar: die romantiese skrywers-ikoon van “Sestig”, Jan Rabie, en sy rebelse anti-establishment vrou, die skilder Marjorie Wallace. In Jan en Jorie maak hulle gebruik van Jan se verhale en Jorie se skilderye om te vertel oor die mees intieme onderhandelinge tussen self en ander, dié onderhandelinge binne die liefdesverhouding, die argument tussen Jan en Jorie wat begin maar nooit klaargemaak is. Dit is egter meer as ‘n woordkunsprogram: alhoewel daar met reeds bestaande teks omgegaan word, gebruik Steyn biografiese gegewens om nuwe dialoog te skep tussen die karakters Jan en Jorie. Die karakter Jorie word dus die stelverwer wat die realiteit kan verander na gelang van die situasie. Malan Steyn se teks en Toerien en Holm se spel is oral lof toegeswaai.

Marina Griebenow skryf in ‘n resensie vir ‘n bekende letterkundige webblad, “Soos met sy trefferstuk Roadkill/Padkos, slaag Steyn daarin om sy eie woorde so naatloos te verweef met aanhalings uit die letterkunde – onder meer van Rabie – dat ‘n mens voel jy wil elke woord gryp om later weer daaraan te proe. Dat Nicole Holm en Francois Toerien, wat die rolle van Wallace en Rabie vertolk, self ‘n egpaar is, dra gewis by tot die genot van jou kennismaking met die karakters. Benewens hul individuele vaardigheid speel hulle teenoor en met mekaar met die intimiteit van mense wat mekaar behoorlik ken.”

Rabie het geglo dat liefde beteken om aan te hou beweeg en geraas maak. Dat liefde beteken om te ontdek, nie om te besit nie. Jorie was baie meer aards, hartstogtelik, veeleisend. Sy sê dat Jan soms so deurskynend was dat sy nie seker was of hy net ‘n figment van haar verbeelding was nie. In onderhoude met Francois Toerien en Nicole Holm bespeur jy dieselfde intensiteit en ondekkingstogte. Hier is geen naywer, net hope talent, ideale en dieselfde hartstog vir mekaar as vir hul werk.

Die Francois Toerien Show is nou reeds ‘n instelling op Stellenbosch waar hy sy oorsprong gehad het. Episode vier was gedurende November vanjaar te sien by die Klein Libertas Teater. Dit het ontstaan uit ‘n behoefte om ‘n kultuur van Afrikaanse sketskomedie in die lewe te roep. Volgens Toerien is hulle geïnspireer deur komediereekse soos Smack The Pony, Little Britain en A League of Gentlemen. Soms is die humor satiries, soms slapstick en somtyds net absurd.

Die Francois Toerien Show wil vir almal wat voel dat die Afrikaanse komedie-aanbod op TV (én die verhoog) nie in hulle smaak val nie, ‘n alternatief bied. “Ons kyk bietjie na swak diens in supermarkte en daar is ‘n opvolg van die “balkon”-skets met eiendomsagente onder die soeklig. Ons hoofskets speel dié keer af in ‘n vliegtuig en die twee skooldogtertjies kom gesels verder. In dié episode het ons ook besluit om videosketse in te sluit.” Ander akteurs wat saam met Francois optree, is Marelize Kolver, Altan Ungerer, Lorraine Burger en Esther von Waltsleben. Juanita Swanepoel behartig die spelleiding en die teks is geskryf deur Toerien en geselskap.

Op ‘n vraag hoe hulle vanjaar Kersfees vier en of hulle ‘n groot gedoente maak daarvan sê Nicole hulle vier nie werklik Kersfees nie. “Ons is meestal alleen, maar soms gaan ons eet by my ma, en soms is daar “per ongeluk” vriende by ons.”

Vertel van Kersfees uit julle kinderdae. Is daar spesiale herinneringe en/of dinge wat verbygegaan het wat julle mis?

Nicole: “Kersfees was vir my as kind “magical” – my oupa het soos Vader Kersfees aangetrek en diep uit die tuin aangestap gekom en ek onthou selfs later jare, toe almal van ons kleinkinders al geweet het dis Oupa, was die histerie en genot van die oom uit die tuin sien aankom, nog steeds wonderlik. En dan was my ouma natuurlik ‘n ongelooflike kok en het ons daarna aangesit vir alles wat vet maak.

Waar sou julle Kersdag wou vier en wat is op die spyskaart?

Nicole: Langs die see, maar dit moet reën, verkieslik storms. En ons moet tapas eet.

Dié akteurspaar span nou eers uit oor Kersfees. Op 8 Januarie begin Nicole in alle erns werk aan Bloedbruilof wat middel Januarie by die Suid-Oosterfees speel.

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Leave a Reply