‘n “nuwe” teks vir krismis

“Woorde leer”, antwoord Paul Eilers op my vraag oor waarmee hy hom gaan besig hou oor die komende kersseisoen.

“… sal oor die kerstyd baie hard instudeer aan Faan se Stasie (die opvolg tot Faan se Trein) wat ons volgende jaar by die Kunstefees gaan doen! Daar is sprake dat ons Faan se Trein én Faan se Stasie daagliks gaan afwissel oor agt dae (die duurte van die Oudtshoorn fees) maar dit sal nog ‘n saak van ernstige gebed moet word. Faan se Stasie is ‘n groter riller as Trein (woordsgewys).”

Sy terugkeer na die verhoog tydens dié jaar se KKNK was ‘n glorieryke een. Eilers is huistoe met die gesogte Kanna-toekenning vir die beste vertolking in toneel en woordkuns vir sy rol as Faan in Pieter Fourie se drama. Sy kragtoer op die verhoog en die verhaal wat Fourie met die drama vertel, het gehore so aangegryp dat Faan ook bekroon is met die Herrie Kanna-gewildheidsprys. Die vermaarde akteur is staande toegejuig en dit na twintig jaar se afwesigheid van die verhoog.

“Faan was ‘n genade van Bo want daar is so min rolle van substansie vir akteurs in Suid-Afrika. Die honger om bo jouself te presteer word nooit rêrig gestil nie – elke nuwe rol is ‘n nuwe uitdaging. Ek wil nog so graag Koning Henry II speel in Becket – voordat ek na die Groot Verhoog geroep word.”

Eilers se vertolking van een van die grootste karakters in die Afrikaanse drama oevre, is die kroon op veertig jaar in die vermaakbedryf. Sy teaterloopbaan het in 1963 begin by Johan Fourie se toneelgeselskap in Wellington as geselskaps-, vragmotor- (dekor) en verhoogbestuurder en ad hoc akteur. Ook doen hy in daardie jare regie en verhoogbestuur vir al die Streekrade (nou ontbind) en speel in honderd opvoerings van Die Laaste van die Takhare (Kruik). Hy is deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy regie van Die Vroue van Troje met Anna Neethling-Pohl en Francois Swart in die hoofrolle.

Paul Eilers
Paul Eilers
Vanaf 1972 doen Eilers benewens roetine-uitsaaiwerk, talle radioteater, kleinteater en vervolgverhale. Saam met Sarel Myburgh en (wyle) Cobus Robinson begin hy die oggend-aktualiteitsprogram Monitor en tree op as aanbieder/regisseur. Hy was betrokke by regstreekse uitsendings van Simfonie-konserte uit die Johannesburgse Stadsaal, die regie van die eerste regstreekse uitsending van die Artes-toekennings vir radio vanuit die UNISA-saal en die eerste Afrikaanse oorklankingsregie met wyle Roelf Jacobs in die hoofrol.

Vanaf 1981 is Eilers vryskut akteur, radioman en aanbieder van Goeiemôre Suid-Afrika met Dorianne Berry; speel hy in TV-dramas en reekse (onder andere Song vir Katryn I en II, Egoli, Sonkring II); lees tv nuus; doen regie van tv-produksies soos die Genesis-Kontrak (Scholtz Films); King of Diamonds (Dirk de Villiers); James en Die Fluiter (Eilers Films) asook verskeie dokumentêre programme.

In 1996 vra Pieter Fourie hom om op te tree as bemarkingsbestuurder vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Terselftertyd begin hy die gemeenskaps radiostasie Suid-Kaap Stereo in Oudtshoorn. Die radiostasie bestaan nie meer nie, maar sy verhouding met Fourie is standvastig en gegrond op wedersydse respek en vertroue.

“My kanker is genees, hoewel ek soms nog lam en tam is – maar mens voel mos nie ongemak of pyn op die verhoog nie. Wat kersdag self betref, het ek eintlik geen spesiale plek of kos in gedagte nie. My beste vakansies was nog altyd by die huis. Ek word ook nou te oud, bly eerder by die huis en geniet die dag op ‘n stil manier met my gesin.”

“The sky is pocked with stars. What eyes the wise men must have had to see a new one in so many.” – Henry II

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Leave a Reply