Laufey se A Matter of Time is die soort album wat klink asof dit uit ’n rookgevulde jazzklub van die 50’s gestap het, net om met ’n slimfoon in die hand en ’n gebroke hart in 2026 te beland. Sy bly ’n seldsame kunstenaar wat nostalgie nie as kostuum dra nie, maar musikaal gebruik.

Waar haar vorige werk soms té versigtig met haar eie styl omgaan, is A Matter of Time alles behalwe skaam. Die snare glim, die jazz-harmonieë vou oop en elke melodie voel onverklaarbaar bekend vir ’n jazz-aanhanger. Selfs wanneer die tempo daal bly die atmosfeer interressant.

Liries is die album ’n reeks liefdesbriewe wat nooit gepos is nie – romanties, selfbewus en soms snaaks. Sy skryf met die presisie van iemand wat weet dat die kleinste detail dikwels die hardste tref.

Wat A Matter of Time besonders maak, is hoe moeiteloos dit die kunsmatige grens tussen klassiek, jazz en pop uitvee. Dit probeer nie modern klink nie. Dit ís modern omdat dit nie die reëls volg nie.

In ’n era waar albums dikwels ontwerp word om algoritmes te voed, herinner Laufey ons dat die beste musiek steeds gemaak word vir mense met ore, herinneringe en harte. A Matter of Time is nie bloot nog ’n album nie. Dit plaas Laufey in die voorste linie van jong, moderne musici.

A Matter of Time - Laufey
A Matter of Time – Laufey

Lewer kommentaar

Leave a Reply