Afrika Kind in Londen – Machiel Roets

deur Haydee Hollander

“Ek vergeet partymaal dat ek nie Londen toe wou kom nie, is eers na Amsterdam maar kon nie ‘n werkpermit kry nie en moes toe settle vir ‘n holiday workers visa in Londen.”

Die eertydse verkoopsman van Harrods is vandag hoof van musiek by die Redroofs Kollege in Marylebone, waar hy stembou, stemafrigting en interpretasie klasse gee aan kinders tussen die ouderdom 10 en 18 jaar en tussendeur vryskut vir ander teaters.

“Harrods in die negentigs was die beginpunt vir baie Suid-Afrikaners. Ek onthou op ‘n tyd was tagtig persent van die sales assistants in my afdeling Suid-Afrikaners. Dit was 1996. In daardie tyd het hulle Londen toe gestroom. Ek was pas klaar met B.Mus (sang) by professor Werner Nel maar het nie soos baie ander studente my onderwys diploma gedoen nie, so skoolhou was nie ‘n opsie nie. Ons is boere en my ouers het alles verloor met droogte en koöperasie-skuld. My ma het my seker ook maar Londen toe gestuur om te kom goud haal.”

Dus was dit Harrods in die week en sanglesse oor naweke by privaat instansies.

“My grootste probleem was die taal. Ek kom van die Vrystaat waar bitter min Engels gepraat word. Op Potchefstroom was dit ook nie veel anders nie. Ek onthou nog hoe ek gesukkel het met die voorgeskrewe boeke in Engels. Nietemin as jy ‘n taal moet praat, leer jy vinnig. My skool pêlle lag nou vir my want hulle kan nie glo hoe vlot ek leer praat het nie.”

Machiel Roets
Machiel Roets
“Harrods is baie spesiaal. Prinses Diana het ‘n paar dae voor haar noodlottige ongeluk met haar bodyguards by my verbygestap. En ek onthou die lang staan agter die toonbank, die vele illegal oproepe na Suid-Afrika en die baie rook op die dak lunch tyd.”

Na sowat ‘n jaar se los en vas werkies, pos hy ‘n aansoek na die Sylvia Young Teaterskool. ‘n Pos by dié skool is gesog, veral met sangopleiding as hoofvak.

“Dit was ‘n groot gelukskoot dat Sylvia my genooi het vir ‘n onderhoud want sy het my verwar met Michael Rose, ‘n groot musical director in Engeland. Ek is kans gegun om les te gee en later dieselfde dag het sy gebel en my ‘n pos aangebied op vocational dae (Donderdae, Vrydae en Saterdae). So ek was bevoorreg om met mense soos Lee Ryan van die boyband Blue en Matt Sergeant van Busted (year 3000) te werk. Ook ‘n klomp ander. Sylvia se skool het die bynaam star factory.”

“My visum was net geldig tot 1999 en ek moes dringend plan sien om te kon aanbly. Hier was nog baie wat ek wou doen, soos komponeer. My kennis van musiek teater het baie gehelp, buitendien het ek die beste jong sangers tot my beskikking gehad wat my werk aansienlik makliker gemaak en my baie vrye tyd gegee het. Thames Valley Universiteit het my ‘n beurs gegee en ek kon vir die volgende twee jaar my M.Mus doen in Composing for Musical Theatre. Toe, in 2001 kontak Redroofs Teaterskool my. Hulle bied voltydse kursusse aan en het ‘n kunsskool. Ek komponeer onder meer vir die Novello Teater wat aan hulle behoort en die meeste musiek is vir hulle jaarlikse pantomime. Redroofs het ook my nuwe visum gereël dus hoef ek my tot 2006 nie te bekommer oor verblyfstatus nie. Ek geniet dit want ek kry kans om met musikante soos Jayne O’Mahony (Cosette in Les Miserables) kamerkonserte te doen en Mazz Murry wat tans in die West End die Killer Queen speel in We will rock you.”

Vir die Novello Teater in Ascot skryf Machiel musiek vir panto’s soos Cinderella, Aladdin, Puss in Boots en Babes in the Wood, ‘n klankbaan vir die toneelstuk Devastation van Paul Prescott en behartig die musikale regie van verskeie kollege produksies waaronder Fame, Into the Woods, Working, Guys and Dolls, Honk, Dear Edwina, Chorus Line, Cabaret, Sweet Charity en Chicago. In 2001 vermaak hy gaste voor die vertoning van Om Goodbye Te Sê met Brümilda van Rensburg en Gavin van den Bergh en in 2002 is hy die residensie pianis vir Channel 4 se Graham Norton geselsprogram.

“Ek werk darem nie die hele tyd nie, geniet my Sunday Roast nog baie, veral die Yorkshire Puddings is my favourite en so nou en dan hou ons ‘n braai dan staan ons almal om die vuur en verbeel ons dis Suid-Afrika.”

Machiel Roets
Machiel Roets

Maar ons gesprek loop draaie. Ek wil met Machiel praat oor sy debuutalbum Afrika Kind wat op 17 Junie op Resonance FM bekendgestel word, ‘n projek waarop hy en Ludwig Wagner wat die reklame doen, kennelik baie trots is (lees ook onderhoud met Ludwig op www.roekeloos.co.za).

“Vroeër verlede jaar was ek in Suid-Afrika, het vreeslike emosionele wroegings gehad met waar ek my bevind, wat ek wou doen en Suid-Afrika en die politiek in die algemeen. Ek was ook bang Suid-Afrika wil my nie meer terughê nie. Die titelsnit handel oor hierdie dilemmas. Afrika Kind is my uitkomkans as jy wil, my identiteit en ek wou die liedjie die beste versorging moontlik gee. Onderwyl in Suid-Afrika, het ek Marius Brouwer genader en gevra of hy op kort kennisgewing na my idees kon luister. Wat so nice is van die liedjie is dat ons daardie eerste take net so gebruik het. Die res van die orkestrasie het Marius met groot sensitiwiteit gedoen. Dit gee mens ‘n kick as die producer ook van jou liedjies hou. Dit maak die werksproses soveel makliker. Die middel deel sou oorspronklik net klavier wees maar Marius stel toe voor ons kry vir Timothy Moloi. Ek het vir Timothy vertel wat ek wou hê die Zulu lyrics moes sê en hy het vertaal. Moloi se bydrae tot die lied is ongelooflik. Hy’s ‘n baie talentvolle musikant.”

Ek vra Machiel uit na die ooglopende elemente van verlange en eensaamheid wat soos ‘n draad deur die liedjies loop (Ek Verlang, Berge van Verlange, Jan Maak ‘n Plan en Ek en my Klavier.)

“Liedjies soos Ek Verlang en Berge van Verlange som op waarna ek hier in die vreemde verlang: son, die Afrika landskap met sy elemente van heimwee en ongenaakbaarheid wat seker die grootste inpak op jou maak as jy eers landuit is. Dis nou maar eenmaal ‘n ongelooflike stuk aarde. En ja, ek mis my familie en my vriende en Afrikaans. Die hele omhelsing daarvan in die media en kunste. Ek sit van hier die wonderlike goed en aanskou wat met en in Afrikaans gebeur. Ek kry so lekker ek skryf sommer nog ‘n song!”

Inderdaad. In 1999 skryf hy Ek Verlang vir die Crescendo kompetisie en haal daarmee die finale rondte. Didi Kriel, wat die verwerking en finale meng hanteer het, het terloops opgemerk “daar was nog nooit so ‘n song nie”. Hy luister ook na Roets se Engelses en neem Here We Are op met boy band Eden. Vir nog twee opeenvolgende jare is Roets ‘n Crescendo finalis met Hoe kan dit Rëën? en Wie Jy Is. Marius Brouwer is weer die musiekregisseur.

Machiel Roets
Machiel Roets
“Ek wou vreeslik graag Crescendo wen. Die verlange na Suid Afrika was erg, ek wou net teruggaan maar moes weet daar was ten minste iets substansieël om na terug te gaan. Die lewe het ‘n funny way om soms jou besluite vir jou te maak.”

“Ek haal my hoed af vir mede Suid-Afrikaners wat hiernatoe kom en ‘n sukses daarvan maak. Dit vat guts en baie trane om hier te oorleef. ‘n Mens se fondamente word onder jou uitgeruk en jy moet baie vinnig by jouself uitkom of jy kan heeltemal verlore raak. Hoe meer ek geskryf het (met die oog op voorleggings aan ander kunstenaars), hoe meer was dit vir myself. Die idee aan ‘n eie album het almeer posgevat.”

“Dit gebeur dikwels dat een moet teruggaan. Veral die jonges wat hier verlief raak en dan loop alles verkeerd. Bly By My handel hieroor. Jan Maak ‘n Plan is vir my ouers geskryf. Hulle moes weer voor begin, soos baie ander. Maar dis ook dubbelsinnig. Jan is ook ek en ander wat hier woon en werk. Ek en my Klavier handel oor my groot liefde, musiek. Dis ‘n gawe en ek is baie dankbaar daarvoor, sou nie daarsonder kon oorleef nie.”

Ek wonder of sy belewing van (Afrikaanse) musiek in die vreemde verskil van sy belewing daarvan in Suid-Afrika en of objektiwiteit plek gemaak het vir (te veel) sentiment.

“Ek kan nie in Engeland na Amanda Strydom luister nie, haar stem en vertolking slaan so hard op my sensitiewe snare dat dit amper ondraaglik is. In Suid-Afrika is dit ‘n ander saak. Laurika Rauch is nog okay in my kar. Dan luister ek graag na studente maats Herman van den Berg en Anna Davel se musiek. Hulle is albei ‘n groot inspirasie en albei het soveel talent. Ek geniet dit ook om na nuwelinge te luister soos Riku Lätti en Ddisselblom. Jak de Priester se goed is ook stunning.”

Voorts gesels ons oor die medewerkers op dié spesiale album, sover bekend die eerste Afrikaanse album wat in Londen opgeneem en vrygestel is.

“Anthony Galatis van Just Ginger het die Londen opnames hanteer. Dit was ook goedkoper om die res van die album hier klaar te maak. Ek het ook gerus gevoel omdat hy Afrikaans kon verstaan en so bietjie praat. Ek onthou ons het met hom in ‘n email gespot oor die Broederbond-musiek waarmee ons besig was. Danie van Rensburg (kitaar) toer tans in Ierland met die Suid-Afrikaanse groep Franklin. Hulle is besig aan ‘n album. Danie se agtergrond is Boeremusiek. Hy het vir Beeskraal gespeel saam met sy broer Jasper en dit het baie handig te pas gekom vir die verwerking van Jan Maak ‘n Plan. Dit was seker die lied wat die meeste brainstorming gevat het maar ek is baie tevrede met die finale produk. Martin Arnoldi (bas kitaar) is ‘n Poolse musikant wat vir die Suid-Afrikaanse band Livingstone hier in Londen speel. Hy doen ook sessie werk vir Anthony. Dit was heerlik om te sien hoe hy die vreemde taal en musiek geniet. Luister in Jan Maak ‘n Plan na die instrumentale deel wat volg op die groove seksie. Martin se bydrae is hoorbaar in die baslyn. Dit is geniaal. Riaan van Rensburg is op dromme. Jake Telford is op sax, sy bynaam is one take Jake. Luister maar na Waar Is Jou Liefde en Ek Sal Vir Jou. Hy sê sy eerste gevoel oor ‘n lied is gewoonlik in die kol.”

Die omslag ontwerp is deur Ludwig Wagner, wat dit so verduidelik:

“.ons is vreemdelinge in ‘n vreemde land, en as gevolg van dit wat ons agtergelaat het staan ons kaal hier, nuutgebore en kyk na die toekoms. Miskien ook vir die eerste keer vry om te wees wie ons wil wees. As kunstenaars is dit ons plig om mense te laat vrae vra en soms mense ongemaklik te laat voel omdat dit wat uitgebeeld word hulle indruk van die wêreld uitdaag. As kunstenaar en musikant stel Machiel homself bloot aan almal op meer as een vlak.”

“Machiel het my in November 2004 gekontak en vir my ‘n cd gegee met demos wat hy by die huis opgeneem het, net stem en klavier. Ek het met die songs en die musiek identifiseer en gevind dat ek oor en oor daarna luister. Dit werk op verskillende vlakke en dis een van daai albums wat mens kan speel en deur luister van begin tot end. Dis ook nie die tipe cd wat jy sal koop net vir een song nie. Ek het betrokke geraak omdat ek dink Machiel is regtig talentvol, sy songs en musiek is ongelooflik mooi. Dis volwasse Afrikaanse musiek. Ek het dadelik ingestem om finansiering te soek vir die album en te help met die bemarking. Dis great dat Afrikaners in die buiteland nie hulle identiteit verloor nie en voortbou op wie en wat hulle is.”

Besoek ook:
www.sylviayoungtheatreschool.co.uk
www.machielroets.co.uk
Luister na snitte op Afrika Kind:
www.machielroets.co.uk/

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar