Alexander Ramm

Die opwindende jong tjellis Alexander Ramm sal op 13 Mei om 15h30 ‘n uitvoering gee by die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow, Kaapstad.

Hierdie merkwaardige Russiese musikant, wat reeds verskeie internasionale musiekkompetisies gewen het, sal op klavier begelei word deur Tinus Botha. Dit is die sal die 7de konsert in Die Hugo Konsertreeks.

Alexander Ramm is in 1988 in Vladivostok gebore. Hy tree al sedert negejarige ouderdom in die publiek op. Hy het aan die Moscow State Chopin College of Musical Performance onder Maria Zhuravleva studeer. Hy is tans ‘n student aan die Moskou Konservatorium onder die mentorskap van die beroemde Professor Natalia Shakhovskaya, waar hy gereeld in die konservatorium se bekende konsertsale, o.a. in die roemryke Rachmaninoffsaal optree.

In 2012 het Alexander deelgeneem aan die Courchevel Festival Academy in Frankryk, waar hy les ontvang het by Prof Phillippe Muller. As deel van die Holland Music Sessions 2010 het hy onder Maria Kliegel en Reinhard Latzko onderrig ontvang. Tydens hierdie geleentheid is hy ook aangewys as een van die “New Masters on Tour”, wat aan hom talle belangrike konsert-aanbiedinge in die loop van die 2011-2012 seisoen gebied het. Hy het o.a. in Oktober 2011 sy debuut in die beroemde Concertgebouw in Amsterdam gemaak.

In Julie 2011 het Alexander aan die gesiene Verbier Festival Academy in Switzerland deelgeneem, onder leiding van professors Frans Helmerson en Gary Hoffman. Hy het die Neva Foundation Prys ontvang, wat aan Russiessprekende musici toegeken word. Hy het ook les ontvang by David Geringas en Uzi Wiezel.

Ramm het reeds onder verskeie prominente dirigente gewerk, o.a. Valery Polyansky, Maxim Fedotov, Yang Yang en Vladimir Spivakov.

Van die pryse wat hy tydens kompetisies ingepalm het is die 1ste Prys by die Moscow Young Cellists Competition in 2003; die 1ste Prys by die International Music Competition in Cambridge (Massachusetts) in 2005; die Grand Prize by die Moscow Festival of Romantic Music in 2006 en die 4de Prys by die UNISA Internasionale Strykerskompetisie in 2010. In 2012 was hy een van die wenners in die 3de International Beijing Music Competition, asook wenner van die 1ste National Music Competition in Rusland.

Tinus Botha het sy musikale opleiding by die Universiteit van Pretoria, die Music Academy of the West (Santa Barbara) en Texas Christian University (Fort Worth) ontvang. Hy was ‘n solis saam met verskeie Suid-Afrikaanse orkeste, insluitend die Artium Orchestra, KRUIK, NAPOP, COSA, Pro Musica, Universiteit van Pretoria Simfonie Orkes, Kaapse Filharmoniese Orkes en die Pretoria Simfonie Orkes. As kamermusikant het hy saam het van die voorste kunstenaars in Suid-Afrika gewerk. Hy tree gereeld as amptelike begeleier by die Unisa Internasional Musiekkompetisies op. Hy is ook ‘n eksaminator vir die Unisa se Direktoraat van Musiek.

Die program vir hierdie konsert sal bestaan uit die bekende Sonata vir tjello en klavier in A majeur deur César Franck, Gaspar Cassadó se lewendige Suite vir solo tjello en die

Sonata in G mineur vir tjello en klavier, Op.19 deur Sergei Rachmaninoff.

Alexander Ramm in Konsert word aangebied by die Hugo Lambrechts Oudtorium in Picton Street, Parow, op Sondag 13 Mei om 15h30. Kaartjies teen R120, R80 (pensionarisse) en R60 (studente/leerders) kan bespreek word by www.webtickets.co.za of tydens kantoorure by tel. 021 461 3816. Kaartjies sal ook by die deur beskikbaar wees.

Lewer kommentaar

Leave a Reply