‘Tree met Thabo Mbeki in verbinding. Vra hom om na Londen te reis waar jy en hy onder vier oë moet ontmoet. Niemand anders mag weet waaroor julle praat nie.’
“Ek begin bewe. Moet ek betrokke raak by iets wat my só sal kompromitteer dat alles wat vir my moreel belangrik is, dalk in duie kan stort?”
Eindstryd is die verhaal van hoogs geheime ontmoetings tussen verbanne ANC-leiers en ’n paar uitgesoekte Afrikaners in die onstuimige tagtigerjare, vir die eerste keer vertel deur iemand wat self daar was: Willie Esterhuyse. Dié vertroulike gesprekke in Engeland was nie net deurslaggewend in die begin van onderhandelinge nie, dit was ook die begin van ’n onwaarskynlike maar durende vriendskap tussen ’n Stellenbosse professor uit die Afrikaner-binnekring en ’n vurige jong aktivis en latere president.
Esterhuyse bied ’n vars, soms onthutsende blik op dié fassinerende verhaal: van geheime tronkgesprekke met Nelson Mandela tot wát gesê is in PW Botha se situasiekamer en hoe Nasionale Intelligensie Suid-Afrika van grootskaalse geweld probeer red het deur in in te gryp in die skaakspel tussen die ‘vyande’.

Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van Apartheid / deur Willie Esterhuyse — Tafelberg, 17 April 2012. — 365 p. ; sagteband. — ISBN 9780624054269 :
Taal: Afrikaans
Sleutelwoorde: Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van Apartheid, Willie Esterhuyse
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)