“Luka”, wat “lig” of “draer van lig” beteken in verskeie Slawiese tale is ’n strelende akoestiese ballade in ’n 6/8-walsgenre, uit Anton Goosen se eie pen, wat die vreugde en hoop beliggaam wat saam met ’n nuwe lewe kom. Dit gaan oor nuwe lewe en hoop in ‘n dapper nuwe veranderende wêreld.
Volgens die Liedjieboer vang dié snit die liefde en onskuld deur die oë van ’n pasgebore seuntjie vas. “Hierdie is ’n liefdesliedjie oor ’n klein seuntjie, genaamd Luka, met die blouste oë in die wêreld. Die boodskap is diep, maar eenvoudig: gryp die dag – carpe diem,” verduidelik hy.
Die idee spruit uit die gedagte dat uit die chaos van die eeue ’n dansende ster kan ontstaan – ’n viering van die wonder van die lewe, soos gesien in die oë van ’n kind soos Luka. Die video is ’n kombinasie van ou video’s, argiefmateriaal en tonele wat verfilm is op ’n wynplaas buite Stellenbosch tydens die Woordfees. Die musiekvideo is vervaardig deur Niel van Deventer en geredigeer deur Christiaan Scheepers . Alle materiaal in die musiekvideo is verskaf deur artlist, Instock, en Anton Goosen Argiewe. Daar was ook addisionele materiaal verfilm deur Niel van Deventer wat in die musiekvideo bygevoeg is. Die woorde en musiek is deur Anton Goosen 2024 Bushrock/Gallo music voorsien.