Die 17-jaar-oue violis, Emma Steenkamp, het met die goue medalje en die Michael Maas Gedenkprys van R36 000 by die 2024 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) weggestap.
Die kompetisie het Saterdag 7 Desember met ‘n luisterryke galakonsert saam met die Kaapstadse Simfonie Orkes (KFO) in die Endler-saal in Stellenbosch ‘n hoogtepunt bereik.
Emma is van Plumstead, Kaapstad, maar sy is tans ‘n student aan die Walliese-Katedraalskool in Somerset, Engeland. Die skool spesialiseer in musiekonderrig.
Twee pianiste, Yu Qing Peng, 16, en Chanda Bupe Lupambo, 19, was onderskeidelik tweede en derde. Elkeen het respektiewelik ‘n silwer- en bronsmedalje, asook R15 500 en R10 000 gewen.
Yu Qing is ‘n leerder aan die SAHETI-skool in Bedfordview en Chanda is a BMus student aan Stellenbosch Universiteit.
Die kategoriewenners was Yu Qing Peng, klavier, Emma Steenkamp, strykinstrumente, James Cilliers, 18, houtblaasinstrumente (saxofoon) and Kyrah Adams 18, ander instrumente (marimba). Elkeen het R6 000 en ‘n silwer medalje in die sak gedruk.
Die wenner en NJMK-ranglys word kumulatief or die vier rondes van die kompetisie bepaal. Sewe hoogs aangeskrewe musici het die beoordeling gedoen.
Daar was vyf kategorie naaswenners wie elk ‘n brons medalje en R3 500 ingepalm het. Hulle is pianiste Christian-Peter Hiemstra, 14, Chanda Bupe Lupambo en Hermanus Schmidt, 16. Een van die kompetisie se jongste deelnemers, Rebecca Gray, 14, in die strykinstrumentkategorie (tjello) en Kian Goliath, 17, houtblaasinstrumente (saxofoon) het by die pianiste as naaswenners in geval.
Vyf deelnemers, wie nie in die derde en vierde rondes gespeel het nie, het as die mees belowende spelers in twee van die NJMK se vyf kategorieë erkenning ontvang. Elkeen het R3 500 gewen. Hulle is Bernadette Goemans, 19, Helen Lin-Lin Liu, 19, en Jayden Li, 15, in die strykinstrumentkategorie met Quinn Goliath, 15, en Talitha Pienaar, 18, in die houtblaasinstrumentkategorie.
Emma Steenkamp het ook drie van die spesiale pryse ingepalm, naamlik beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse komposisie (R3 500), die Polina Burdukova-prys (R5 000) vir die beste uitvoering van ‘n werk deur ‘n Russiese komponis deur ‘n strykinstumentalis, asook die prys vir die beste uitvoering van ‘n concerto in die finale ronde (R5 000). Sy het met ‘n reuse R55 000 in haar sak koningin van die NJMK gekraai.
Yu Qing Peng het met die Pauline Nossel-prys (R5 000) vir die beste uitvoering van ‘n klassieke werk deur ‘n pianis weggestap. Peng het altesaam R32 000 verdien.

