Ben Schoeman

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Ben Schoeman was die wenner van die 2003 Unisa Nasionale Klavierkompetisie wat deur hom en twee ander bekroonde pianiste (Eugene Joubert en Stephen Pierce) oorheers was. Al drie is studente van Professor Joseph Stanford.

Vroeër vanjaar het die 20-jarige Schoeman deurgedring tot die halfeindronde van Unisa se tiende Internasionale Klavierkompetisie, maar is as laaste oorblywende Suid-Afrikaner in die halfeindronde uitgeskakel deur die Russiese pianis, Alexei Sjernof (21).

Verlede jaar is Schoeman aangewys as die algehele wenner van die Nasionale Klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq, een van Suider-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisies vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 16-27 jaar en vir sangers tot en met 30 jaar. ‘n Totale prysgeld van R57 500 was betrokke. Schoeman, ‘n kategoriewenner, het prysgeld ter waarde van R20 000 ontvang. ‘n Bonusprys van R3 000 is ook aan hom toegeken vir die beste vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde (P. Klatzow se Impundulu uit From the Poets)Ter voorbereiding van die Unisa Klavierkompetisie, het die Pretoriase pianis in 2002 deelgeneem aan die tiende Nasionale Hennie Joubert Klavierkompetisie in samewerking met die Wellingtonse Musiekvereniging op Wellington. Die finaliste is tydens die gala-aand deur die Kaapse Filharmoniese Orkes, gedirigeer deur die Skotse dirigent George Michie, begelei. Die pryse vir die kompetisie word deur die Rupert Musiekstigting van Stellenbosch, Remgro, en die nuutgestigte MCCOSA (Music Communication Centre of Southern Africa) geborg. Talle kleiner donateurs ondersteun ook die kompetisie. Schoeman was die wenner van die goue medalje. Ander prestasies sluit in die Unisa Ererol vir uitstekende musikale prestasies, ‘n optrede met die Simfonia Juventi in 1999, keuring om drie maande onderrig aan die CPE Bach-Muzikgymnasium in Berlyn, Duitsland to ontvang, Algehele wenner: Strykersafdeling – Beeld Pretoria Eisteddfod 2001, Beste Klawerbordspeler: ATKV Prelude Kompetisie, Medalje wenner van die ABSA Nasionale Jeugmusiekkompetisie en wenner van ‘n Pretorium Trust-Beurs in 2002.

Tydens vanjaar se KKNK, gaan Schoeman optree saam met Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van Christopher Dowdeswell en konsertmeester Alla Shubinsky. Suid-Afrika se voorste simfonieorkes bied ‘n program van gewilde, ligte klassieke werke, onder meer die Peer Gynt Suite, Klavierkonsert in A-mineur (Grieg), Drie danse uit Die Verkoopte Bruid (Smetana), Prelude tot Carmen (Bizet), Prelude tot Bedryf III van Lohengrin (Wagner), Polonaise uit Eugene Onegin (Tsjaikofski) en die Ligte Ruitery Ouverture (Frans von Suppe).

Lewer kommentaar

Leave a Reply