Na vele bespiegeling en afwagting oor die nuwe Bom wat Kom is Valiant Swart se nuwe CD, Boland Punk nou beskikbaar. Boland Punk bevat 12 hermeesterde weergawes van Valiant se kragtigste punk-rock treffers van die afgelope 13 jaar, asook die veelbesproke nuwe snit “Die Bom Kom”, PLUS heropgeneemde dansweergawes van “Die Mystic Boer” en “International Maria”. In die omslagboekie skryf Valiant iets oor die omstandigheidgetuienis rondom die herkoms en ontstaan van elke song op die album.
Die rumours rondom hierdie CD het ontstaan nadat ‘n kortspeler van drie nuwe snitte op 10 September aan platejoggies gestuur is. Een van die nuwe snitte op die kortspeler is getiteld “Die Bom Kom” en op die agterblad van die omslag was ‘n passasiersvliegtuig, besig om deur ‘n ring van sterre te vlieg.
Hierdie stukkie onreine waarheid het almal se hare in pure punk styl regop geruk. Die song is reeds vóór die einde van die vorige eeu geskryf en gedurende Augustus 2001 opgeneem…
Dus, om op te som: … Boland Punk bevat tonne van die beste wat hierdie Supersuave Blonde Boland Rocker punktueel (punk intended) oor die afgelope 13 jaar aan die skerp kant van dinge gedoen het, plus ‘n bonus van drie nuut onwerpte bomme waarmee hy die skerp kant nóg skerper skuur.
‘n Absolute moet vir alle ou en toekomstige Valiant fans en kruisvaarders van ontstuimige gatskop Suid Afrikaanse Punk Rock..
Hy´s nou los… LEKKER DANS…!
7/10 (vir die nuwe songs)
