Chereé se splinternuwe enkelsnit, HEART (geskryf deur Sunette Bridges), lê haar na aan die hart. Sy is self al deur donker dae en moes haarself gereeld herinner dat dit sý is wat moet kies om die volgende tree te neem op die pad van genesing en om die lig weer in haar lewe toe te laat.

Vergifnis en selfliefde is die fokus wat nie net Chereé nie, maar ook die skrywer Sunette Bridges, met hierdie nuwe enkelsnit op Valentynsdag wil oordra.

“Ek het die lirieke vir HEART geskryf toe ek sélf met ’n gebroke hart geworstel het en baie ure in gesprek met myself spandeer het. Ek wou nie toelaat dat die donker van hartseer my insluk nie en ek het besef dat my genesing in my eie hande is en hierdie tyd ook sal verbygaan as ek net vasbyt en glo dat ek hierdeur óók sal kom”, sê Sunette.

Chereé voeg by: “Hierdie liedjie wil ek opdra aan al die mense wat op Valentynsdag met ’n gebroke hart sukkel. Dis ’n liedjie oor vasbyt en oor begin, oor vergifnis en aanvaarding en die reis na genesing. Om waarlik iemand anders te kan liefhê, moet jy jouself kan liefhê en lig in jou lewe toelaat. Met HEART wil ek elkeen aanmoedig om ’n gesprek met jou eie hart te voer en die besluit te neem om nie meer in die skadu’s en reën te leef nie, maar doelbewus die gordyne oop te trek en die son te soek.”

Sunette het die voorreg gehad om die musiek vir HEART in Nashville by van die mees talentvolle musikante in die bedryf, onder lyding van Bob Minner en Denny Hemingson, te gaan opneem. “Ek kon nie vir ’n beter kunstenaar as Chereé gevra het om dit te sing nie. Sy moes ook haar eie pad van liefde en teleurstelling stap … ’n pad wat haar gelei het tot by Wynand, dié liefde van haar lewe”.

Chereé se vertolking van die lied is met soveel gevoel en die luisteraar sal kan hoor sy hét die berg geklim en leef nou in die lig van liefde.

Dit is albei vroue se hoop dat die liedjie ’n inspirasie sal wees vir almal daarbuite, veral op hierdie dag waarop die liefde gevier word.

Na al die jare brand die liefde nog sterk tussen Chereé en Wynand en vier hulle vanjaar ook hulle vyftiende huweliksherdenking. Hulle spog met twee pragtige dogters, Taylor-Hope en Bella-Joy, wat die sirkel van hulle liefde vir mekaar kom voltooi het. Omdat hulle saam sing en toer kan hulle mekaar ondersteun en het hulle mekaar baie goed leer ken. Hulle ondersteun mekaar en deel in mekaar se drome, maar gun mekaar ook die ruimte om hul eie mens te wees.

“Wynand hanteer my altyd met ’n sagte hand en ‘n hart vol liefde en sy rasperstem maak steeds my knieë lam. Hy is waarlik ’n goeie mens met ’n ruim hart en hy is ’n fantastiese pa. Dit maak hom vir my nog meer aantreklik. Ek kan nie my lewe sonder hom indink nie. Ek is elke dag dankbaar vir hom in my lewe”, sê Chereé.

Om af te sluit, voeg Sunette by: “HEART is ’n liedjie oor vasbyt en oor begin, oor vergifnis en aanvaarding en die reis na genesing. Om waarlik iemand anders te kan liefhê, moet jy jouself kan liefhê en lig in jou lewe toelaat. As jy alleen is vandag, maak hierdie liedjie joune! Klim daai berg en moenie terugkyk totdat jy heel bo is nie. Die uitsig is asemrowend!”

Cheree 2025
Cheree

Lewer kommentaar

Leave a Reply