Kort op die hakke van Christi se debuut-album Fall Apart, asook haar nuwe enkelsnit, “Love Burn” is ’n musiekvideo.

“Nadat my langtermynverhouding tot ’n einde gekom het, het ek besef dat ek die persoon met wie ek uitgegaan het nie regtig geken het nie. Ek het die verhouding van sy kant af begin sien en dit wat uitgebeeld was, was baie anders as terwyl ons saam was. Net soos Taylor Swift, het ek my hartseer en teleurstelling omgesit in lirieke en ’n liedjie daaroor geskryf,” vertel sy oor haar vyfde enkelsnit.

Die musiekvideo is verfilm by ’n tweedehandse plaat- en CD-winkel, Microgram Music Traders, en is vervaardig deur die uiters bekwame en begaafde Gerduan Kemp.

“Ek is mal oor langspeelplate en versamel dit saam met my pa. Met die video wou ek wys wie ek is as ’n musikant en plate speel ’n belangrike rol in die manier waarop ek na musiek luister. “Love Burn” is geïnspireer deur Avril Lavigne en die musiekvideo ook. Ons het op ’n 2000’s-pop-rock-tema besluit, met ’n drie-man-orkes – Richardt Oliver (tromme), Mike Kitchener (bass) en PC Vermaak (kitaar) om dit ’n werklikheid te maak. Ek het ’n egte outentieke tweedehandse Y2K-rok gedra saam met klassieke Chuck Taylor-tekkies”, verduidelik sy.

Wanneer jy haar uitvra oor die storie agter die video, verklap sy: “Ek kyk na die musiek wat beskikbaar is in die winkel en verbeel my dat ek “Love Burn”, my eie liedjie, daar sing. Aan die einde besef ek dat dit net my verbeelding was. Vir my weerspieël dit hoe my drome om ’n sanger te word begin realiseer, maar dis steeds iets waaraan ek hard moet werk om dit te laat waar word.”

Soos met haar vorige musiekvideo, het sy gefokus op haar optrede om lewe in die musiek te blaas. “Ek hou daarvan om optredes te doen. Dis een van my gunsteling-dele van my musiekreis en ek wou die video gebruik om my liefde hiervoor uit te beeld,” voeg sy by.

Love Burn – Christi

Lewer kommentaar

Leave a Reply