Confessions

Die woord “confess” kan beteken bely, beken, bieg of erken. Baie mense sal reken dit is ‘n gevaarlike tema vir ‘n album wat bedoel is vir die ligte-musiek mark. André sal sê “Dit is tipies André Swiegers“. Hy benader eenvoudig die lewe van ‘n ander hoek. Mense wat hom ken besef hy weet hoe dit voel as die lewe jou skud, wat dit verg om jou drome lewendig te hou, wat dit is om werklik mens te wees.

Dit is wat Confessions is, ‘n eg menslike album wat die siel van ‘n man ontbloot en dit aan die wêreld reflekteer. Dit is egter nie in sentimentele stroop gedompel nie. Hoewel hy soms redelik kras mag voorkom (“Revenge”), verpak hy sy deurdagte lirieke in suiwer akoestiese melodieë, wat eerder optimisme as depressie by die luisteraar wek.

André se uitklophou lê in die vermoë om kontraste te skep. Soos hy aan die eenkant liefde sag en innemend kan beleef (“Twee feilbare mense”), net so, aan die ander kant, kan hy skokkend eerlik verwyt (“You’re gonna miss me when I’m gone”). Net so moedeloos soos wat hy langs die Ben Schoeman-hoofweg na sy stukkende Volksie staan en kyk (“1966 VW Beetle Blues”), net so fantaseer hy oor sy ontwykende Spaanse danseres (“Doncella”), waarin onder meer die internasionale perkussiespeler Efrain Toro te hoor is, tesame met twee uitsonderlike Suid-Afrikaanse musikante, Mauritz Lotz (ghitaar) en Denny Lalouette (Bas).

André se liedjies bestaan uit kontrasterende, soms siniese, lirieke teenoor ligter wysies. Ewe verbeeldingryk skep hy ‘n variasie op die tema in die duet “Twee Feilbare Mense” saam met Helena Hettema. Hierdie liedjie sou normaalweg eerder in balladevorm geskryf wees, maar André verkies om die beeld van die houthuise iewers in die berge in te kleur met ‘n rock-ritme.

Met Richard vd Westhuizen se liriek “Hoor hoe val die reën”, toor André ‘n melodie wat eenvoud en alleenheid omskryf. Vir André is die album ‘n verwysingsraamwerk van sy eie lewe. Maar nietemin sal elke tweede mens op straat kan identifiseer met soortgelyke ervarings en emosies.

Diegene met ‘n goeie geheue sal André Swiegers onthou vir sy sukses by die destydse Debuut-kompetisie en sy debuut-album wat daarop gevolg het. Daarna sou hy bekend staan as Squire Blue en hom toespits op Engelse liede. Squire Blue was ‘n herdefiniëring van waar hy hom bevind het en waarheen hy op pad was.

Die album Tablature het baie goeie radioblootstelling gekry, maar omdat min mense hom op die verhoog sien optree het, omdat hy toe hoofsaaklik geskryf het, het meeste landgenote gedink hy is ‘n stem van oorsee. Boonop het hy geen behoorlike kontrak in terme van bemarking of verspreiding by ‘n platemaatskapy gehad nie. Hy het egter die spontane terugvoer van ‘n gehoor baie gemis en vir hom was die “kommunikasiesirkel onvoltooid”.

As mens sou terugkyk na André se loopbaan as liedjieskrywer, dan staan sy naam langs treffers soos Laurika Rauch se “Blou”, asook heelwat van die Coleske treffers soos “Take me where the Sun is Shinning”, “Vanishing Point”, “Faith in love”en “Aphrodite”. André word allerweë beskou as ‘n skepper van treffers. Daarom gebruik kunstenaars soos Coleske, Theuns Jordaan en Richard vd Westhuizen graag sy materiaal op hul albums.

Sy nuwe album Confessions weerspieël volgens hom die realiteite wat hul afspeel in meeste mense se lewens. Omstandighede en gevoelens wat nie net uniek is aan homself nie. Hy beskryf dit soms met humor en soms met erns.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar