David Fourie het sy professionele verskyning as sanger gemaak toe hy in 2002 die eindrondte van die gewilde Idols-South Africa gehaal het. Vandag is hy bekend vir liedjies soos Ek wil jou ken, Land in die suide, Kaboemielies, Hou my vas, stywer vas en sy mees onlangse nommer een, On the radio.

Kort voor David se pa in 2016 oorlede is, het hy sy seun aangemaan: “Kom terug, ons mense mis jou.” Wyse woorde van ‘n pa wat ook sy bekende liedjie, Kaboemielies, geïnspireer het. Soos sy pa sagkens probeer wys het waar die wortels begrawe is, het David weer begin musiek skryf, en na 8 jaar nooi hy ALMAL nou saam op die verhoog met, Die Dans Ding.

Die Dans Ding

Wat is Die Dans Ding? Uit David se perspektief?

“My nuwe musiek is nie net ‘n lekker Afrikaanse pop liedjie nie, maar ‘n uitnodiging om die lewe te vier, ten spyte van neerslae, siektes en enige uitdagings wat ons beleef. As jy net vreeslik lekker kan dans net soos wat jy is, voel dit asof dit jou oplig, bo aardse probleme uit, en dit gee jou nuwe lus vir die lewe. Na alles wat in die laaste vyf jaar in ons wêreld gebeur het, is daar geen beter geneesmiddel as om te dans met simbale en alles wat jy het nie.”

Wat het David geinspireer om die lied te skryf?

“Ek het gedurende my tyd in Nieu-Seeland begin werk met ‘n organisasie, StarJam, waar ek vir kinders met verskeie fisiese en verstandelike uitdagings klas gegee het om te sing en te dans. Ek het met hulle gewerk soos ‘normale’ kinders en hulle uitgedaag om hulle beste te lewer deur musiek. Dit was so ‘n wonderlike ervaring wat selfs die nuus gehaal het. Hier in Suid-Afrika werk ek met kinders by die Imibala Trust, wat sosio-ekonomiese uitdagings beleef, selfs hulle dans bo uit oor al hulle sorge heen, en is nou op pad om oorsee op te tree. Al hierdie ervaringe het my benadering tot my eie musiek en doel in die industrie verander en ek skryf en skep vanuit daardie perspektief.”

Die Dans Ding

Die Dans Ding is ‘n merkwaardige tentoonstelling van David se evolusie as Afrikaanse “Pop-Ster”, skrywer, en sy bydrae tot die vernuwing van die genre. Dit is vervaardig deur mede-skrywer, Fred Den Hartog (Die Heuwels Fantasties), die verwerking is organies, tog knipoog produksie duidelik na aanhangers van Afrikaanse dans musiek. David betoon dank aan sy getroue en geduldige ondersteuners, tog verwelkom hy ook die nuwe generasie van musiekliefhebbers met ‘n vars openbaring van sy hart. Soos die lirieke aandui nooi David sy gehoor, alledaagse mense, ons mense, om saam met hom die speel knoppie te druk op hulle lewens en te kyk wat gebeur… Kykers en luisteraars herken hulself, vriende, bure, vreemdelinge en selfs TikTokers, terwyl die musiek ‘n bevrydende effek het op individue wat hulle eie uitdagings in die lewe ervaar: fisies, sosio-ekonomies, kultureel ens. Dit word natuurlik ‘n GROOT dans partytjie met David as voorhaan, want Die Dans Ding is ‘n ‘ding wat begin en dit sluk jou in’. Kry almal bymekaar en kom dans saam!

David Fourie
David Fourie

Lewer kommentaar

Leave a Reply