“Niemand weet waar die wind ons neem nie, en of woorde ‘n ewigheid saam kan bind nie” begin die splinternuwe enkelsnit “Die Deur” van die bekroonde sangeres en radio omroeper, Esté Gross. Hierdie enkelsnit ondersoek die aard van liefde, wat dit werklik beteken om volkome en wedersyds lief te hê. Om die deur vir mekaar oop te hou in ʼn wêreld wat onstuimig is en om te probeer om vrygewig met ons woorde en tyd teenoor mekaar te wees.’’ 
Gepaard met sy woordryk lirieke, skep die lied se melodie ʼn nostalgiese gevoel wat jou deel laat voel van ʼn kunswerk. “Die Deur gaan oor soveel verskillende fasette van die liefde. Ek laat dit doelbewus oop vir elkeen wat daarna luister om self betekenis daarin te vind. My hoop is dat die liedjie jou sal ontmoet op die tyd en plek waar jy is” sê Gross. ” Sommige mense het al selfs vir my gesê dit klink vir hulle soos die perfekte trouliedjie” sy glimlag. Elke persoon se perspektief en ervaring wanneer hulle na ‘n skildery kyk, is tog ook anders. Dieselfde geld ook ook vir “Die Deur”. 
Esté dra die lied in besonder op aan haar Ma, ‘n skilder en skrywer, Hester van Rensburg (ook bekend as Hester Appelboom) wat sy as haar grootste invloed op haar lewe en kunste beskou. Haar Ma is verlede jaar, op 18 Junie skielik op 62 aan ‘n aortiese aneurisme oorlede. 
“Ek het lank geskryf aan “Die Deur”, minwetende dat, wanneer ek eindelik die laaste reël sou skryf, ek eers werklik die betekenis ten diepste self sou verstaan. Wanneer jy werklik iemand lief het, bly Die Deur van liefde altyd oop. Haar nalatenskap en menswees sal altyd met my wees, al is sy nie meer fisies hier nie. Liefde vir iemand wat jou so diep liefgehad het en jy diep liefhet, hou nooit op nie. Dit is haar voorbeeld van aanvaarding en wedersydse liefde wat ek saam met my neem. Danksy daardie voorbeeld, is my hart ook instaat om liefde te verstaan en te kies om lief te hê.    
Gross het besluit om die musiekvideo in ‘n sonneblomveld te skiet. “Sonneblomme was haar gunsteling. Sy het ook talle skilderye oor sonneblomme gemaak.” Maar benadruk sy, my Ma as kunstenaar het ruimte gelos vir jou interpretasie van ‘n kunswerk, met “Die Deur” wil ek dieselfde doen. My hoop is dat elkeen wat hierna luister dit hulle eie sal maak.  

Lewer kommentaar

Leave a Reply