Almal het ʼn gunsteling Afrikaanse liedjie – daardie één liedjie wat jou tone laat omkrul van die lekkerkry en wat jy oor en oor kan luister sonder om moeg te word daarvoor.
Maroela Media is op soek na die liedjie wat die groot gunsteling van die Afrikaanssprekende gemeenskap is. Dié liedjie sal die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye ontvang. Boonop kan mense wat help om dié liedjie te kies, ʼn bootreis vir twee en talle ander pryse wen. Die veldtog word moontlik gemaak deur Virseker en kykNET.
Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye het op Saterdag, 27 Julie om 21:00 met ʼn amptelike bekendstelling op die kykNET-musiekprogram Jukebox afgeskop. Die publiek word aanvanklik genooi om hul gunstelingliedjies te nomineer, en daarna kan hulle in verskeie uitdunrondtes vir hul gunstelingliedjie stem, tot daar net een liedjie oorbly wat met die titel sal wegstap. Die nominasies stroom reeds in en duisende nominasies is reeds ontvang.
Een gelukkige deelnemer sal ʼn bootreis vir twee op die MSC Opera saam met die span van kykNET Jukebox en verskeie bekende Afrikaanse kunstenaars wen. Talle ander pryse, soos ATKV-vakansies, iPods, FAK-sangbundels, wyn, CD’s, boeke en geskenkpakke kan ook gewen word.
Dwarsdeur die veldtog kan deelnemers aan algemene musiekkennis-speletjies op die webblad deelneem, met allerlei lekker pryse wat gewen kan word.
Hoe werk die veldtog?
Fase 1, Nominasiefase: 27 Julie tot 11 Augustus om middernag
Die publiek kan hul gunsteling liedjies op een van twee maniere nomineer:
Stuur ʼn SMS met die woord “Virseker” en die titel van jou gunstelingliedjie na 48052; of
Besoek www.grootsteliedjie.co.za en volg die stappe om jou gunstelingliedjies te nomineer.

