Sewe jaar ná sy laaste album in Afrikaans, het Piet Botha dié maand Die Middernagtrein aan die wêreld bekendgestel.

Hierdie album, sê Piet, “het weer terug na die old school gegaan”. Hy en die manne van sy band Jack Hammer is vars uit die ateljee waar hulle vir drie weke aan Die Middernagtrein by Wolmer Records gewerk het.

“Daar is goed in die lewe waarvoor mens nie kan weghardloop nie,” sê Piet. “Dis maar die noodlot, dís wat die middernagtrein is. Dis spookagtig, verbode, soos wanneer mens huis toe ry ná ‘n gig in die middel van die nag. Die middernagtrein is maar ‘n metafoor vir life on the road.”

Hierdie is Piet se sesde Afrikaanse album, uit ‘n totaal van sestien vollengte albums.

Aanhangers van Piet en Jack Hammer wat iets rustiger verwag het, mag dalk verras wees. Lanie van der Walt, die album se regisseur van Wolmer Records en ‘n ou lid van Jack Hammer, het saam met Jake Gunn en Johnathan Martin, weer op die snare geklim om die album nóg borshare te gee.

“Ons het aanvanklik nie beplan om hierdie album so heavy te maak nie,” sê Piet. “Die songs was almal op ‘n akoestiese kitaar geskryf, maar die hele band het vroeg in die opneemproses al besluit om die album te vul met sleutelveranderings en baie kitare. Dít het maar net daarheen gelei, jy weet?”

Die album word tans tydens Piet en Jack Hammer se nasionale toer bekendgestel.

Piet het onlangs by die Vonk-familie aangesluit, wat die verspreiding sal behartig. Die Middernagtrein sal vanaf April beskikbaar wees by Musica-winkels landswyd, asook op alle aanlyn-musiekplatforms.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar