Soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat hierdie streek aan ons land se Weskus hul tuiste noem. Sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is. Botha Enslin bring ’n keur van gewilde kontreistories, geskryf in tipiese streekstaal wat handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, na die verhoog toe in Die Pomporrelkonsert by die Pierneefteater op Woensdag, 4 Desember om 19h00.
“Daar is Oompie Paul se Groot Nood¸ Die Dood vannie Founmannetjie en Die Oorbesige prekkereer wat begin: “Kyk, ek weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ‘t toet Petrus die duiwel wel gedagvaar ‘t nie…”. Ons ontmoet ook vir Pensie, nurse Drientjie van Schalkwyk, Tanta Anna, sy met die wye tande en natuurlik Dirk Ligter, die nimlike hy…”, sê Botha, wat in die produksie lewe gee aan meer as 20 karakters. “Botha Enslin is ‘n meester van karakterisering”, sê regisseur Frans Swart. “Hierdie man kan net met ‘n draai en ‘n beweging vir jou die volgende karakter gee. Hy is ongelooflik talentvol.”
Die stories in Die Pomporrelkonsert is geskryf deur Ferdinand Deist, wie se bundel Die Pomporrel-konsert en ander Sandveldstories so paar jaar gelede weer op RSG voorgelees was. “Die verhoog was dus die logiese volgende stap”, sê Frans, wat die stories vir die verhoog verwerk het. Om verder kleur aan die produksie te gee, het Swart ook stories van Boerneef en Jan Spies bygevoeg. “Dit was moeilik om stories te kies uit die keur wat Deist vir ons geskep het, want hy het die wonderlikste stories oor die Sandveld geskryf!” Deist was ‘n professor in Teologie maar hy het die gawe gehad om die stories en die spreektaal van die Sandveld perfek neer te pen.
Enslin het reeds vir Lefra Produksies in verskeie produksies gespeel, waaronder al Lefra se gewilde klugte sedert 2013, asook die kinderproduksie Liewe Heksie. Hy het sy Nasionale Diploma vir Drama in 2003 verwerf aan die destydse Technikon Pretoria onder leiding van Woutrien Theron. Behalwe die talle verhoogproduksies,het Botha ook verskeie televisie- en radioproduksies en -advertensies op sy kerfstok. Hy was onder andere te siene in Rhythm City,Generations, Isidingo, Thys en Trix en ‘n paar Silwerskermfilms. Hy is ook ‘n eiendomsagent.
Kom ontmoet die kleurryke karakters van die Sandveld in Die Pomporrelkonsertby die Pierneefteater op Woensdag, 4 Desember om 19:00.