Drie jaar ná hy die goue medalje en eerste prys van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) triomfantlik in 2015 verower het, keer die talentvolle fluitspeler Sakhile Humbane dié week terug na die vooraanstaande kompetisie om as die gaskunstenaar by die Finaliste Galakonsert van vanjaar se wedstryd op te tree.

Hy sluit die uitdagende 2018 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK), wat van 9 tot 13 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad aangebied word, af met die Hongaarse Pastorale Fantasie van AF Doppler saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Afkomstig van KwaMashu naby Durban, woon Sakhile nou in Rondebosch, Kaapstad waar hy musiek by die Universiteit van Kaapstad studeer.

“Ek is opgewonde om na die NJMK terug te keer. Dit is ‘n platform wat my ontsettende baie geleer het. Dié keer soveel te meer omdat ek daar is om die musiek te speel sonder die ekstra druk van mededinging,” sê hy.

Die 22-jarige musikus gesels met heimweë van die drie jaar se pelgrimstogte per bus na Kaapstad om aan die gesaghebbende kompetisie vir talentvolle klassieke musici deel te neem voordat hy sy groot deurbraak gemaak het.

“Ek het elke keer iets nuuts geleer. Ek hoop van harte dat vanjaar se 19 mededingers iets sal leer, ongeag die uitslag van die wedstryd.”

Die jaarlikse kompetisie, aangebied deur die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS) is 34 jaar gelede in Port Elizabeth deur Michael Maas, die stigter en voorsitter van die stigting, van stapel gestuur.

Dit word ondersteun deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en Fine Music Radio (FMR), en is vir klassieke musici wat te jonk is om vir die UNISA Internasionale Musiek- en die ATKV Muziq kompetisies te kwalifiseer; of wie te oud is vir die SAMRO Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie.

Die NJMK Finaliste Galakonsert is die hoogtepunt van ‘n weeklange uitmergelende kompetisie waar die 19 gekeurde mededingers vanoor Suid-Afrika ‘n omvattende repertoire werke voor ‘n beoordelingspaneel van nege lede bestaande uit gewaardeerde klassieke musiek akademici en kundiges speel.

Die voorste ses deelnemers spook sake finaal uit by die galakonsert waar hulle saam met KFO optree.

Die kompetisie met pryse van meer as R145 000 bied Suid-Afrikaanse ontluikende sterre die geleentheid om hulle vaardighede vir die professionele verhoog te slyp.

“Nadat ek die NJMK gewen het, het ek talle uitvoeringsgeleenthede gekry wat professionele blootstellings gegee het, asook die kans om my fluitspel op te skerp na ‘n meer professionele standaard. Die wedstryd het my ook onregstreeks gehelp – ek kon die prysgeld aanwend om oorsee te gaan vir meestersklasse by internasionaal-befaamde fluitspelers en onderwysers. Hou aan leer en bly groei,” sê Sakhile.

Die Finaliste Galakonsert op 13 Oktober begin om 19:00. Kaartjies kos R120, R90 vir pensioentrekkers, student en leerders. Besprekings by Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers winkels, of aanlyn by www.computicket.com.

· Toegang is gratis by die eerste drie rondes van 9 tot 11 Oktober by die Hugo Lambrechts-Ouditorium.

Lewer kommentaar

Leave a Reply