Sommige liedjies het die vermoë om diep in die harte van luisteraars nes te skop.
Vir die gewilde sanger, liedjieskrywer en radio-omroeper, Francois Boyce, is “Asemrowend” deur die gospelsanger Leon Ferreira een van daardie liedjies.
Daarom het hy besluit om, in samewerking met Grammy-benoemde vervaardiger Neville D en die evangelistiese ensemble Die Lekker Crew, ’n baie besonderse en unieke verwerking van hierdie praglied op te neem ten bate van dié gospelsanger wat tans ’n moedige stryd voer teen aggressiewe prostaatkanker.
“Hierdie liedjie is oorspronklik opgeneem deur Leon en naas “My Pa is die Koning”, is dit een van sy heel mooiste liedjies. Die woorde het my hart geraak en beskryf presies hoe ek self God beleef. Uit ’n musikale oogpunt gaan sit die melodie in jou kop vas en ’n mens kry dit nie uit nie,” vertel Boyce oor hoekom hy juis op hierdie snit besluit het.
Volgens Francois, wat met Leon se musiek in die huis grootgeword het, het hulle vriende geword nadat hy en Neville D met hom ’n onderhoud gevoer het op hulle radioprogram op Radio Tygerberg 104 FM. “Asemrowend” is gedurende hierdie onderhoud gespeel en Francois en Neville D het in daardie oomblik albei besef dat hulle iets met hierdie liedjie wou doen.
Na Leon se onlangse kankerdiagnose, het hulle toe besluit om saam met Lekker Crew ’n splinternuwe verwerking daarvan op te neem, by Digital Forest se ateljee in Constantia, om te help fondse insamel vir sy mediese behandeling as deel van sy BackaBuddy-veldtog.
“Leon is iemand vir wie ek ongelooflik baie respek het. Hy is ’n nederige man en as gevolg van iemand soos hy, het ek vandag ’n musiekloopbaan. Daarom het ek gevoel dis niks minder as reg om te probeer help waar ek kan nie,” deel Boyce. “Sy medies dek nie sy kankerbehandeling nie, daarom probeer ons fondse insamel sodat hy die nodige behandeling kan bekostig.”
’n Musiekvideo van die lied, waarin Francois, Neville D, Die Lekker Crew en Leon te sien is, is nou ook op die kassie en YouTube te sien. Dit is by Digital Forest se ateljee aan die voet van Groot Constantia-wynplaas verfilm deur JahK van Heerden van TheFullFrameFox.
Volgens Francois was die hooffokus van die video die woorde en wou hulle dit eenvoudig hou, sonder tierlantyntjies, en ’n klomp mense wat vir God sê “U is asemrowend”. Om die hart van die liedjie te behou, het hulle Leon ook ingesluit in die beeldmateriaal.
As jy graag fondse wil bydra om te help met Leon Ferreira se behandeling, kan jy ’n skenking deur BackaBuddy maak hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/support-leon-ferreiras-fight-against-aggressive-c
Met sy nuutste enkelsnit hoop hy nie net om ’n verskil te maak in Leon Ferreira se lewe nie, maar ook in die lewens van elkeen wat daarna luister.

