Slegs 24 opkomende sterre vanoor Suid-Afrika is uit 35 inskrywings vir die 2025 Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) gekies. Die kompetisie vind van 1 tot 6 Desember by die Endler-saal, Konservatorium-gebou, Victoriastraat, Stellenbosch plaas.
Hulle is na video-oudisies deur ‘n paneel gevierde musici gekeur.
Dié kandidate tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar sal in die week-lange kompetisie vir die prysgeld van R180 000, die gesogte wen titel, goud, silwer en brons medaljes meeding.
Die kompetisie word oor vier rondes in vyf kategorieë vir orkes musiekinstrumente beslis – – klavier, stryk-, houtblaas-, koperblaar- en ander orkesinstrumente (harp, slagwerk, marimba, xilofoon, ens.).
Vanjaar kraai die pianiste koning met 11 mededingers, gevolg deur vyf tjelliste, drie saxofoonspelers, twee violiste, ‘n fluit-, hobo- en ‘n marimbaspeler.
“Die 13 nuwelinge onder vanjaar se deelnemers illustreer die diepte van klassieke musiekonderrig in Suid-Afrika,” sê Prof Mario Nell, direkteur van die NJMK.
“Die drie pilare van hierdie kompetisie is om die land se opkomende klassieke sterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel.”
Oor die vyf-dae lange wedstryd, moet die deelnemers ‘n wye repertoire van hulle eie keuse speel. Dit dek verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies. Al die mededingers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semi-finaliste in die derde (semi-finaal) ronde meeding om die voorste ses musici aan te wys.
Die leidende ses kandidate sal dan sake by ‘n galakonsert op Saterdag 6 Desember, uitspook, begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).
Die jongste sterre (15 jaar) is van die Wes-Kaap afkomstig. Sewe mededingers is eerste jaar studente van die Universiteit van Kaapstad (UK), Universiteit van Pretoria (UP) en Stellenbosch Universiteit (SU) terwyl die res van die kandidate ‘n verskeidenheid streke verteenwoordig.
Die name van die beoordelaars en kaartjiepryse vir die galakonsert op 6 Desember 2025 sal nader aan die kompetisie aangekondig word. Toegang tot die eerste drie rondes van 1 tot 4 Desember 2025 is gratis.
Die volledige alfabetiese lys van die suksesvolle mededingers is as volg:
| Van | Naam | Oderdom | Instrument | Afkomstig van |
| Adams | Kyrah | 19 | Marimba | Paarl |
| Cilliers | James | 19 | Saxofoon | Durbanville, Kaapstad |
| Cordewener | Meya | 16 | Tjello | Hartenbos |
| Goliath | Quinn | 16 | Saxofoon | Loevenstein, Kaapstad |
| Goliath | Kian | 18 | Saxofoon | Loevenstein, Kaapstad |
| Gray | Rebecca | 15 | Tjello | Pinelands, Kaapstad |
| Henshall | Emma | 19 | Viool | Kaapstad |
| Kennard | Karli | 18 | Klavier | Brackenfell, Kaapstad |
| Kriel | Helena | 19 | Klavier | Stellenbosch |
| Le Roux | Madison | 18 | Klavier | Pinelands, Kaapstad |
| Long | Zainab | 15 | Klavier | Rondebosch, Kaapstad |
| Luo | Weien Amy | 17 | Viool | Umhlanga |
| Marques | Lucas | 19 | Klavier | Mouillepunt, Kaapstad |
| Naudé | Christiaan | 18 | Tjello | Roodepoort |
| Peng | Yu Qing | 17 | Klavier | Woodmead, Johannesburg |
| Pienaar | Talitha | 19 | Fluit | Wingate Park, Pretoria |
| Pillay | Micah | 17 | Tjello | Kaapstad |
| Schmidt | Hermanus | 17 | Klavier | Somerset West |
| Smit | Louis | 18 | Klavier | Midrand |
| Van der Merwe | Misha | 16 | Tjello | Mosselbaai |
| Van Zyl | Andree | 18 | Hobo | Tuine. Kaapstad |
| Wang | Yafei | 17 | Klavier | Plattekloof, Kaapstad |
| Yang | David | 15 | Klavier | Rondebosch, Kaapstad |
| Zhu | Tanya | 18 | Klavier | Kensington, Johannesburg |
Die wenner en finale ranglys van die NJMK word kumulatief oor vier rondes bepaal. Dit is die enigste kompetisie in Suid-Afrika waar die ses finaliste sake vir die louere uitspook, begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO). Die vierde ronde se galakonsert sal regstreeks op die NJMK se webblad gestroom word.

