Na jare agter die skerms van die Afrikaanse musiekwêreld en kerkgemeenskappe, keer Simeon Kriel terug – hierdie keer op sy eie terme. Met sy eerste solo-enkelsnit, “Stukkie”, stel hy nie net ’n liedjie vry nie, maar ’n stukkie van homself.
“Stukkie” gee ’n introspektiewe kykie in Simeon se siel – ’n storie van hoe mens jouself kan verloor in ander mense en hul verwagtinge … en tog, net één stukkie van jou ou self probeer hou. Dis melancholies maar hoopvol. ’n Oproep om iets eg te behou.
Simeon se musiekloopbaan het reeds in sy tienerjare momentum opgebou as deel van die gewilde band Alleen Na Desember, wat tot die finaal van Rockspaaider gevorder het en later op verhoë soos Aardklop, Oppikoppi en Vredefest gespeel het.
Daarna het Simeon jare lank in die aanbiddingsruimte gewerk as Worship Leader en musiekvervaardiger vir gemeentes soos Oase en Alberton Lewensentrum, waar sy werk duisende mense geraak het – insluitend suksesvolle CD-verkope en aanlyn impak.
Nou, met ’n vars, laid-back maar steeds treffende klank, begin Simeon sy solo-kunstenaar hoofstuk. “Stukkie” is die eerste van verskeie vrystellings wat volg – met die ondersteuning van sy eie kreatiewe agentskap, blank_ creative agency, wat ook met bekende name soos Zaan Sonnekus en Barto Swiegers saamwerk aan visuals en musiekvideo’s.

