Om die vermoë om te skep te ontleed, is ‘n onmoontlike taak. Maar tog herken ons die gawe. Die gawe wat Francois Louw het is om vloeiende musiek te skryf en te kombineer met woorde met betekenis.
Die liedjies wat so geskep word, sal in jou ore en gedagtes draal. Hoe meer jy luister, hoe meer sal jy hoor. En hoe meer jy hoor, hoe meer sal jy dink !
Francois is gebore en getoë in Paarl en is reeds op ‘n jong ouderdom aan musiek blootgestel. Sy Oupa, wie ook die gawe van musiek gehad het, kon ag instrumente bespeel en het ook sy eie orkes gehad in die 1940’s. Alhoewel sy Pa ook betrokke is, is hy meer ‘n man vir lirieke en verkies hy om in die skaduwees te beweeg.
Op die ouderdom van 25 het Francois reeds meer as 50 liedjies geskryf. Al die opnames, produksie en klank is deur Derick Lennox van Duisend Liggies behartig. Die CD Destination ‘n jaar gelede vrygestel toe Francois besluit het om homself voltyds aan sy musiek te wy.
Francois se live shows word goed ondersteun en sonder uitsondering geniet die skare die vertonings en sy gemaklike verhoogspersoonlikheid. Die manier hoe hy sonder aanstellerigheid geestelike kwessies en sosiale kommentaar kombineer met saamsing wysies fassineer die skare. Hy het dan ook reeds ‘n lojale gevolg opgebou.
Om die gawe te erken moet nie met ydelheid verwar word nie. Juis die teenoorgestelde. Francois is van voornemens om in alle nederigheid en dankbaarheid aan sy talent te werk en so “to sow the seeds for future needs”.
Francois is ‘n B.Comm-graduant van die Universiteit van Stellenbosch (2007) en het ‘n honneurs graad in Stadsbeplanning verwerf by die Universiteit van Vrystaat in 2009. Hy is ‘n toegewyde sportman en het uitgeblink in tennis, muurbal en rugby. Hy is getroud met Niki vir wie hy “Take it slow” geskryf het toe hulle ontmoet het.
Francois Louw is op 13 April om 20h00 by die Aan de Braak Teater in Stellenbosch.
Kaartjies kos R60.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
