Nou ja, haal diep asem, sluk diep aan jou dop en stoot alle intelligente geselsies opsy. Want hier kom groot dinge, en die klem val op dubbelsinnigheid.
Vandat die gekskeerdery met Maak haar eina in die Afrikaanse musiekbedryf posgevat het, het allerhande obskure dinge begin kop uitsteek. Onlangs het die album Kafoefel Treffers ook op die rak verskyn, maar ten minste is ons getrakteer op pragtige snitte soos Leonard Cohen se “Dance me to the end of love”, John Ireland se “I like” en ander bekendes.
Gefoefel is presies wat die titel sê. ‘n Bietjie raak-raak hier, ‘n bietjie tas-tas daar, en saam is dit ‘n lawwe spul wat jy definitief nie as agtergrondmusiek wil laat aankarring vir ‘n romantiese aandjie nie. Kyk maar net na die groepe se name wat op hierdie album hulle skote vuur, en jy sal verstaan: Die Stokstyf Dansorkes, Vlakvarkie, Hervormde Partytjie of Horings, Pokkel en Lente Oes Boereorkes. Leon Schuster sing sy “Nie vanaand nie” en dan is daar ook die melkbaard-aanbieding van die Campbell Broers wat die ou Bellamy Brothers-treffer “If I said you had a beautiful body” besnaar.
In die algemeen word die lirieke getoonset op ander bekende wysies, en die aanbieding is ‘n ligte pop-boeremusiek kruising.
Maar Suid-Afrikaners bly maar seker altyd Suid-Afrikaners, en daarom kon ek nie help om so nou en dan te proes tussendeur die lirieke van sommige nommers nie, want dit is tog snaaks. Of is dit dalk eerder skurf?
Gefoefel Treffers moet maar liefs met ‘n heel paar knippies sout geneem word en sensitiewe luisteraars, onthou: die onderskrif van die album lui: Slegs vir Mans.