Dr Blues

In die vroeë negentigs trek John Mostert van Durban af Kaapstad toe om by ´n nuwe groep, Blues Broers, aan te sluit en sodoende in minder as tien jaar ´n ikoon van Suid-Afrikaanse blues te word.

Hy was net veertien toe John Mostert agter die dromme en mikrofoon ingeskuif het saam met sy eerste band. Jare later het hy net nodig gehad om twee liedjies oor die telefoon te sing om die Blues Broers te oortuig dat hy die plek agter die mikrofoon moet inneem.

Kenmerkend van Dr John is sy dampige stem, wat ook nie sommer ´n oornag ding was nie. “Jare se mishandeling” en die versigtige voeding op ´n verskeidenheid van whiskeys het die Dokter met ´n instrument gelaat wat harmonieer met blues soos min kan.

Sy eerste bynaam by die Blues Broers was John the Baptist vanweë sy gewoontetjie om water rond te gooi as hy onder die invloed van die sap van die wingerdstok is. Daar was ook die keer toe hy ´n amp met Bio-plus gedoop het. “Dit het nooit beter gewerk nie …” is die Dr John se beskeie mening.

Dat hy ´n beskeie, stil siel is beteken egter geensins dat hy met hom laat mors nie. Vra maar vir die hoofsanger van die destydse Blue Chameleon wat aan die ontvangkant van ´n regter-haakhou was op die verhoog in Victoria-baai toe hy die Dokter te veel gekoggel het.

Die Dr John bynaam het later gekom weens John se vermoë om altyd ´n hoofpynpoeier uit die niet te voorskyn te bring. Vir sy aanhangers het die die titel ´n teken van respek geword vir ´n man wat ´n uitstaande bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek gelewer het. Diegene wat nog nie ´n Blues Broers CD in die versameling het nie kan maar gerus Cellar Tapes aanskaf. Dit is ´n versameling van lewendige opnames gemaak by die Hidden Cellar in Stellenbosch.

Dr John vat ook voor vir die Boulevard Blues Band. Hierdie groep het in 2002 vir van die beste nuwe komposisies in Suid-Afrika gesorg.

Die Blues Broers hou eersdaags ´n bosberaad om te skaaf aan snitte vir ´n nuwe album. Na hul terugkoms sal dit hopelik nie te lank duur voor hulle die ateljee betree om, die voorlopig getitelde, 12 Year Old, die lig te laat sien nie.

´n Lekker crowd en miskien ´n goeie whiskey en die dokter is gelukkig. Hoewel die onlangse toer in Namibië gewys het dat ´n betroubare bussie met ´n koffiemasjien en ´n rookafdeling ook nie te versmaai is nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply