Afrikaanse musiek het ‘n nuwe stem gevind in Gift Matjila, ‘n sanger en liedjieskrywer
wat sy diep persoonlike ervarings in lirieke omskep wat aanklank vind by gehore regoor
die land. Sy jongste enkelsnit, “Wonder”, is ‘n emosionele rou lied wat handel oor
verlange, geloof en hoop. Met lirieke wat reguit uit die hart kom, deel Matjila sy eie reis
van stryd en oorwinning.
Volgens Matjila is “Wonder” ‘n eerlike weerspieëling van ‘n tydperk in sy lewe waar hy
geworstel het met verskeie uitdagings. “Dit is ‘n baie rou, emosionele lied oor ‘n tyd van
hartseer en twyfel, maar ook hoop. Dit gaan oor die mooi ná die storm,” sê hy. Die lirieke
vertel van iemand wat hy in ‘n “donderstorm” ontmoet het – ‘n metafoor vir ‘n moeilike
seisoen in sy lewe.
Die lied bevat sterk temas van geloof, iets wat vir Matjila ‘n belangrike rol speel in sy
musiek. “My geloof hou my gegrond en verantwoordelik, Dit help my om eerlik te wees in
my lirieke,” verduidelik hy. ‘n Hoogtepunt in die lied is die kragtige reël: “As die Here my
kom haal vanaand, weet ek het probeer.” Hierin lê ‘n diepe persoonlike betekenis,
aangesien hy op ‘n stadium gevoel het dat hy in alle aspekte van sy lewe sukkel, van
studies tot verhoudings. “Ek het vir die Here gevra vir rus, maar ek het ook geweet ek het
my alles gegee,” deel hy openhartig.
Matjila beskryf die klank van ‘ Wonder’ as diep en emosioneel, maar tog gevul met hoop.
Hy het self die lied geskryf en het saam met die SAMA bekroonde vervaardiger Tertius
Human gewerk om dit tot lewe te bring.
Die gebruik van spesifieke klankelemente in die produksie het verder bygedra tot die
emosionele impak van die lied. Matjila hoop dat luisteraars nie net die rou emosie in die
lied sal hoor nie, maar ook die skoonheid in hul eie lewens sal raaksien. “Ek wil hê
mense moet hul eie betekenis in die lied vind en dit as hul eie aanneem,” sê hy.
Matjila se pad na musiek was nie sonder struikelblokke nie. As ‘n jong seun het hy
gesukkel om kitaar te leer speel, maar het in 2016 besluit om homself die instrument
aan te leer. Hy is veral beïnvloed deur kunstenaars soos Robbie Wessels en
Spoegwolf, en sy liefde vir musiek het uiteindelik gelei tot sy ontdekking tydens ‘n
realiteitsprogram, waar hy sy kitaar geneem het en begin speel het.

Sy eerste enkelsnit, ‘Ek Staan by Jou’, het ‘n gebed vir Suid-Afrika se boere geword en is
later as die amptelike lied van Droogtehulp gebruik. Sy opvolgsnit, ‘Bloedbroers’, is ‘n
eerbetoon aan vriendskap in al sy vorme.
Wanneer hy nie musiek maak nie, werk Matjila as ‘n onderwyser– ‘n beroep wat hy
gebruik om jongmense te inspireer. Sy passie vir musiek groei egter steeds, en hy beplan
om in die toekoms op nog meer feeste en geleenthede op te tree. Aan sy aanhangers sê
hy: “Ek hoop om binnekort by julle fees of mark te kom kuier.”
As mense een woord sou gebruik om sy lied te beskryf, hoop Matjila dat dit “hoop” sal
wees. Hy glo dat almal met iets worstel en dat musiek ‘n manier is om pyn te verwerk en
sin te maak van moeilike tye. “Daar is altyd iets spesiaal om te ontdek, selfs in moeilike
seisoene,” sê hy.
Met ‘n hart vol musiek en ‘n boodskap van hoop is Gift Matjila besig om ‘n unieke en
betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse musieklandskap te maak. Sy storie en sy
musiek dien as inspirasie vir almal wat al ooit gewonder het oor die lewenspad – en oor
die mooi wat na die storm wag.

Gift Matjila

Lewer kommentaar

Leave a Reply