Met sy nuwe enkelsnit, “Whiskey & Water, Rooiwyn of Jy”, neem Logan Pietersen luisteraars op ‘n emosionele reis deur liefde, verlange en hartseer. Die lied versinnebeeld die siklus van liefde en die emosies wat daarmee gepaard gaan op ‘n eerlike manier.
Logan verduidelik dat die inspirasie vir die lied uit sy eie lewenservarings kom, veral uit sy vroeë twintigs. “Dit was ‘n tydperk van groei, lewenslesse, liefdesteleurstellings en, kom ons wees eerlik, redelik baie kuier. Die verskillende drankies in die titel is metafories – whiskey en water simboliseer eensaamheid, terwyl rooiwyn geselligheid en warmte verteenwoordig, iets wat jy met ‘n spesiale persoon deel.”
Een van die mees treffende lirieke in die lied is: “So sag soos ‘n kosmos, so wild soos ‘n by.” Logan verduidelik dat dit die kontras tussen ‘n vrou se sagtheid en haar wilde gees uitbeeld. “Die by en die blom het mekaar nodig om te bestaan, net soos mense in liefde en verhoudings mekaar nodig het.”
Vir Logan is die lied persoonlik, maar hy het dit so geskryf dat enigeen dit op hul eie manier kan ervaar. “Ek wil hê hierdie lied moet mense in die hart tref. Ons almal gaan deur teleurstellings en seerkry, en ek hoop dit kan as ‘n soort medisyne vir die hart dien.”
Wanneer mense die lied vir die eerste keer hoor, hoop Logan dat die lirieke en melodie hulle op ‘n emosionele reis neem. “Die instrumente vertel ‘n storie, en ek wil hê dit moet mense help om hul eie hartseer en verliese beter te verwerk. Musiek is nog altyd vir my terapeuties – ‘n toevlug wanneer emosies oorweldigend voel.”
Die musiekvideo vir “Whiskey & Water, Rooiwyn of Jy” is by die ikoniese Capitol Theatre verfilm, wat met sy ryk geskiedenis ‘n gepaste agtergrond vir die lied bied. “Ons voel regtig of ons nou ook ‘n bietjie geskiedenis daar gemaak het. Ek en my vrou, Tanya Michelle, se missie is om sulke plekke te ‘uplift’ en nuwe lewe te gee – ek deur my musiek en sy deur haar passie vir dit.”
Logan beplan om vanjaar meer vertonings te doen en selfs ‘n toer of twee in te werk. “Ek hou daarvan om soveel as moontlik musiek te skryf en sal graag meer saam met ander kunstenaars en musikante wil werk. Ek wil mense se stories vertel en dalk selfs ‘n Engelse country-treffer of twee aanpak voor die jaar verby is.”
