Die liedjie “Kinders van die Wind” is aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye.
Na ʼn nominasierondte en verskeie stemrondtes, waarin meer as 60 000 stemme uitgebring is, het die
Afrikaanssprekende publiek besluit dat dié liedjie van die Afrikaanse liedjieskrywer Koos du Plessis
die titel verdien.
Maroela Media het in Augustus vanjaar die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog van
stapel gestuur. Die doel met dié veldtog was om die Afrikaanssprekende publiek aan ‘t gesels te kry
oor Afrikaanse musiek, oor liedjies wat die hartsnare roer of die voete laat tik; liedjies met lirieke en
wysies wat in jou kop vassteek en nie sommer laat gaan nie.
Die wenliedjie, “Kinders van die Wind”, is inderdaad so ʼn liedjie, en is ʼn waardige ontvanger van dié
besonderse titel. Die wenner van die titel is Saterdagaand, 26 Oktober regstreeks op Jukebox
bekendgemaak. Laurika Rauch, wat “Kinders van die Wind” gesing het as die temalied van Phoenix en
Kie in 1978, het by die geleentheid vertel waarom sy reken die liedjie dié titel verdien. Karla du
Plessis, Koos du Plessis se dogter en sangeres in eie reg, het by die bekendmakingsgeleentheid die
wenliedjie gesing, met klavierbegeleiding deur Martin Lane.
Maroela Media wou graag die liedjie wat die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye ontvang, op ʼn besonderse manier verewig, sodat dit meer is as net ʼn titel wat toegeken en vergeet word. Daarom is daar by die bekendmakingsgeleentheid twee inisiatiewe van stapel gestuur:
• Die Kinders van die Wind-beurs vir ligte musiek is bekendgestel. Dié beurs word geadministreer deur die Helpende Hand-beursfonds. Die fondse in die beurs sal aangewend word om ʼn Afrikaanssprekende student wat ligte musiek of (indien daar ʼn gebrek aan gepaste aansoeke is) ʼn kuns en kultuur-rigting studeer, finansieel te ondersteun. Lede van
die publiek kan ook bydra tot die Kinders van die Wind-beurs, ten einde die beurs te laat groei sodat soveel moontlik studente uiteindelik hiermee gehelp kan word. Mense wat ʼn bydrae tot die Kinders van die Wind-beurs wil maak, kan ʼn e-pos stuur na susan@maroelamedia.co.za.
• Die Kinders van die Wind-roos is ook by die geleentheid bekendgestel. Dié roos, wat deur Ludwig’s Roses gekweek en geregistreer is, is ʼn roos met ʼn tydlose, klassieke vorm. Die roosbos (Floribunda) groei nie hoër as heuphoogte nie, en dra ʼn groot aantal pienk rosies aan elke stingel. Die onopgesmuktheid, suiwer kleur en kleiner as gemiddelde grootte van die rose herinner aan die kinders, herinneringe en drome wat Koos du Plessis in die wenliedjie besing. Die Kinders van die Wind-roos is geregistreer by die departement van landbou, en sal binne enkele dae tot twee weke by kwekerye regoor die land beskikbaar wees. Dit kan ook vanaf Ludwig’s Roses se webwerf bestel word.
Deelnemers aan die verskeie nominasie- en stemrondtes in die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog het die kans gestaan om aan die einde van die veldtog die groot prys, ʼn vierdag-bootreis vir twee ter waarde van R15 000, in te palm. Die wenner van dié prys is by die bekendmakingsgeleentheid aangekondig as Hannelie Meintjies van Proklamasieheuwel in Pretoria. Hannelie en haar man vaar van 4 tot 7 Februarie volgende jaar op die Jukebox-bootreis saam met verskeie Afrikaanse kunstenaars, insluitend Pieter Koen, Juanita du Plessis en Adam Tas, na die Portugese Eiland. Die paartjie se vlugte van en na Durban, vanwaar die boot vertrek, is geskenk deur AfriForum.
Maroela Media het in Augustus vanjaar die publiek genooi om liedjies te nomineer wat hulle beskou as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Byna 8 000 nominasies is ontvang. ʼn Paneel beoordelaars het deur die nominasies gesif, en ʼn kortlys van 50 finaliste saamgestel. Dié 50 liedjies was verdeel in vyf kategorieë, 10 liedjies per kategorie. Na ʼn eerste ronde stemme is die top 50, vyf liedjies per kategorie, bekendgemaak, en die publiek is genooi om weer te kom stem, hierdie keer vir die top 5. Die vyf kategoriewenners is die vyf liedjies wat uiteindelik vir die groot titel in aanmerking gekom het. Dié vyf was “Die Stem” (tradisionele kategorie), “Kinders van die wind” (tydlose treffers), “Pampoen” (populêr), “Dis ʼn land” (raserig) en “Heidi” (kinderliedjies).