Grys Gebiede

Danie Niehaus se eeste Afrikaanse album in sowat ses jaar het pas verskyn, enkele maande na die sukses van ‘n kersalbum met die titel Kerslantern.

Al gehoor van die groen kabouterman? Hy jaag blykbaar agter elke musikant in die wêreld aan en slaan hulle oor die kop. Hy boesem die vrees in dat hul musiek nie na wense is. Dit bring die musikale slenteraar onbedoeld na ‘n gebied genaamd Grys Gebiede, ‘n plek van verslaenheid, terneergedruktheid en moedeloosheid. Maar die titel van Danie Niehaus se nuwe album Grys Gebiede het niks met sy gemoedstoestand te make nie. Inteendeel, die storie loop verder so: Byna ‘n lewensreis verder wink die Groen Vallei, ‘n onverstoorbare plek van kalmte en besinning. Dit is hier in sy hoofstad, Mkomazana, waar die groen kabouterman se groen kaart nie geld nie, al is hy groen. Hier kan Afrikaanse musiek ‘n nuwe baadjie aantrek en deurtastend verander in iets wat besproeiings- en klakkelose kladboekmusiek se kraan effens toedraai. Dit is hier waar Danie nou met sy musiek is, in die Groen Vallei, waar sy note en lirieke ‘n nuwe baadjie aantrek, waar hy filosofies raak.

“Die aanslag van my nuwe CD is half folkerig, ek wil terugkeer na my roots.”

Grys Gebiede is tydens dié jaar se KKNK in Oudsthoorn bekend gestel en die publiek het baie positief reageer hierop. “Ek dink mense begin meer dink waaroor musiek gaan, die lirieke raak al hoe belangriker.” Die nuwe CD is in die Drakensberge opgeneem, in ‘n ateljee op die plaas van Don Clarke wat ook die musiek geskryf het. Die lirieke was Danie se werk. “Die omgewing bring net die beste uit in jou as kunstenaar, die plaasgeluide, die berge en die blomme was vir my ‘n geweldige inspirasie. Ek het lus gehad vir skryf, lus vir musiek maak.”

Liedjies (sommige outobiografies) wat op die nuwe album verskyn, het titels soos Die Wêreld Weet, Namakwaland groep, Dig, Niks te ver nie, Stadige pen, Hantam, Die Groen Vallei en Cinderella.

Danie se eerste Kersalbum, Kerslantern, is op 28 November 2004 in die ouditorium van die Hoërskool Durbanville vrygestel. Volgens Niehaus het die idee van die opname ontstaan toe hy vir die soveelste keer moes aanhoor hoe radiostasies feitlik slegs Boney M se Kersopnames van etlike jare gelede speel. Hy het besluit genoeg is genoeg. Hoewel van die snitte meestal deurwinterde Kersliedere is, het Niehaus tog nuwe skeppings soos Mynie Grové se Kersfees Emakhaya (Kersfees by die Huis) ingesluit. Hy het ook met Beekman saamgespan vir ‘n eiesoortige vertolking van haar liedjie, ‘n Sonneblom uit Bethlehem. Ander kunstenaars wat saam met hom optree, is Mathys Roets, Soli Philander en Charl van Heyningen.

Niehaus beplan ook in die nabye toekoms ‘n opvolg op Kerslatern. “Dit is opmerklik hoe sekere van die Kersliedjies ‘n mens steeds aangryp al ken ons hulle van kindsbeen af “, het Niehaus gesê. “Dit was ‘n aangename en nuwe ondervinding om vir die eerste keer duette op te neem met kunstenaars wat ek lank reeds ken maar nog nooit mee saamgewerk het nie.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply