Hadeda

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Neem twee Engelssprekende Afrikaanse ouens: drommer Barry van Zyl en kitaarspeler Nibs van Der Spuy. Gee hul verbeelding vrye teuels, en laat die twee saam musiek skryf met ‘n Afrika geur en lirieke in Afrikaans, Zoeloe en Engels. Meng ‘n paar vriende by, almal bekende musikante in eie reg: Shawn Phillips, Concord Nkabinde, Carlo Mombelli, Laurinda Hofmeyr en Neo Muyanga. Die resultaat van dié unieke samewerking is ‘n splinternuwe CD getiteld Hadeda.

Barry van Zyl is ‘n meesterdrommer, perkussiespeler en dosent van Johannesburg. As lid van Johnny Clegg se orkes sedert 1999 het hy al ver en wyd toere onderneem. Onlangse optredes en/of opnames sluit in: Shawn Phillips, Colin Vearncombe oftewel “Black”, The Hothouse Flowers, Ernest Ranglin, Oliver Mtukudzi, Paul Hanmer, Anton Goosen, Valiant Swart, Tony Cox, Ladysmith Black Mambazo, The English Chamber Orchestra, Arno Carstens se New Porn, Laurinda Hofmeyr en The Soweto String Quartet.

Nibs van der Spuy speel kitaar, sing, komponeer en gee klas in Durban. Hy was stigter, leier en komponis van die Durbanse orkes Landscape Prayers, saam met wie hy hoog aangeskrewe albums vrygestel en internasionaal getoer het. Nibs het ook reeds twee solovrystellings op sy naam, asook ‘n voortgesette musikale vennootskap met Gito Baloyi van Tananas-faam. Later vanjaar sal Nibs terugkeer na Italië om saam met die Modena City Ramblers te toer.

Al die musiek op die CD Hadeda is deur Barry en Nibs gekomponeer en so vars en ongerepeteer as moontlik in Durban opgeneem. Daarna is die instrumentale snitte aan die gaskunstenaars gegee om sonder enige inmenging te interpreteer. Die gevolg is ‘n wye verskeidenheid style maar met ‘n eg Suid-Afrikaanse geur. Al die musiek is akkoesties – geen elektriese kitare of klawerborde nie. Helfte van die snitte is instrumentaal, en die klem val op melodie en interessante ritmes. Hadeda word versprei word deur Rhythm Records. Die titel van die album was blykbaar Frank Opperman se idee: die lawaaierige maar tog statige inheemse voël wat alle Suid-Afrikaners assosieer met die klank van “by die huis wees”.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar