’n Baie unieke uitvoering van Handel se oratorium Messiah is in Desember op Oudtshoorn te sien.
Handel se Messiah is een van die mees uitgevoerde koorwerke in Westerse klassieke musiek en geniet sedert die 1742-première daarvan gereelde uitvoerings.
Op Vrydag 8 Desember om 18:00 kan gehore op Oudtshoorn ’n terugkeer na die weergawe van die oratorium se eerste uitvoerings in Dublin op 13 April en 3 Junie 1742 ervaar. Die Kaapstadse Barokorkes (CTBO), onder Erik Dippenaar se leiding vanaf die klavesimbel, deel die verhoog met sangers van Lutesong Consort.
Volgens Dippenaar kan die gehoor soortgelyke musikale inkleding aan daardie eerste uitvoerings verwag. “Die gehoor kan uitsien na barok-strykinstrumente en continuo, baroktrompette en -keteltromme, asook ’n ensemble van twaalf professionele sangers wat die solos sowel as die koordele sing, asook ’n terugkeer na die kleinskaalse kamermusiek-gevoel van die eerste uitvoerings.”
Die twaalf sangers, almal lede van die barok vokale ensemble Lutesong Consort, is Lynelle Kenned, Elsabé Richter & Louise Howlett (soprane), Lente Louw, Nick de Jager & Minette du Toit-Pearce (alte), Jason Atherton, Willem Bester & Levi Alexander (tenore) en Aubrey Lodewyk, Keaton Manwaring & Patrick Cordery (basse). Die bekende Oostenrykse baroktrompetspelers Raphael Pouget en Julian Ritsch sluit ook by hulle aan. Pouget keer nou vir ’n derde keer na Suid-Afrika terug om saam met die CTBO te werk, ná vorige optredes by die Kaapstadse Barokfees in 2018 en 2019.
“Hierdie is ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Messiah se uitvoering in Suid-Afrika, aangesien die volledige 1742 Dublin-weergawe baie selde hier op barokinstrumente uitgevoer word. Sluit by ons aan vir Messiah soos jy dit nog nooit vantevore gehoor het nie,” sê Dippenaar.
Die uitvoering van hierdie geliefde oratorium word deur die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, die KKNK en Klein Karoo Klassique ondersteun, en is op Vrydag 8 Desember om 18:00 by die Burgersentrum op Oudtshoorn te sien.
Kaartjies is aanlyn by Webtickets, of by Pick n Pay beskikbaar, met pryse vanaf R100 per kaartjie. Vir meer inligting, kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337. Klik hier om jou kaartjies te koop.
Die 28ste KKNK word van 23 tot 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied, met die 15de Klein Karoo Klassique wat van 9 tot 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn plaasvind.