Jealous‘, die nuwe popsnit uit die pen van die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Kerry B, is tans besig om die trefferleer te klim op verskeie radiostasies regoor die land. Die liedjie ondersoek jaloesie en die potensiaal wat dit het om jou lewe te transformeer.

’n Indrukwekkende musiekvideo, wat ’n pragtige visuele dimensie aan die treffer verleen, is pas vrygestel en nou aanlyn en op die kassie te sien.

Die video voer kykers weg na ’n opwindende wêreld wat Kerry B se veerkragtigheid vertoon teen die aangrypende agtergrond van die verlate ou plaashuis by Estate d’Afrique.

Kerry B, foto: Angelique Pretorius
Kerry B, foto: Angelique Pretorius

Vir hierdie projek het sy kragte saamgespan met Gerduan Kemp, wat die kreatiewe brein agter die produksie was. Hoewel sy nie ’n duidelike idee gehad het van wat sy wou hê nie, was dit vir haar ’n uitgemaakte saak dat die video by die ou plaashuis verfilm moes word.

“Ek voel aangetrokke tot ou, verlate geboue. Amper asof ek daar is vir ’n rede. Dis surrealisties en betowerend. Ek was versot op hierdie gebou vandat ek dit die eerste keer gesien het en het gewens dat ek die mooi van die gebou vir ewig kan vasvang. ’n Video is natuurlik die perfekte manier om dit te doen,” verduidelik sy.

Die gebou se geskiedenis en argitektuur en die gevoel van geheimsinnigheid dra by tot die algemene gevoel wat hulle graag op skerm wou vasvang en oordra.

Jealous – Kerry B

‘Jealous’ het ’n kragtige boodskap van dapperheid en deursettingsvermoë en die video beklemtoon hierdie tema deur Kerry (wat haar skitterend van haar taak gekwyt het as aktrise) weer te gee as ’n sterk vrou, wat vir haarself opstaan en sukses bereik.

Sy voeg by: “Die lirieke spreek vanself, so ek kon myself maklik in die situasie inleef. Ons wou die boodskap oordra dat ek ’n sterk en dapper mens is wat enigiets kan regkry as ek graag wil. Ek is ook baie dankbaar dat Lyle Crebo en Sonja de Reuck my toegelaat het om die video op hulle eiendom te verfilm.”

Buiten vir musiek is hierdie veelsydige vrou aktief betrokke by verskeie projekte en het sy baie opwindende planne vir die res van die jaar, wat soveel as moontlik optredes en ’n spesiale wegbreek vir haar verjaardag en huweliksherdenkings insluit.

Kerry is in Krugersdorp gebore, waarna haar gesin na KwaZulu-Natal en later na Gauteng verhuis het.

Musiek was nog altyd een van die enigste konstante dinge in haar lewe. Omdat sy ’n sensitiewe kind was, is sy egter afgeraai om haar tyd daarop te spandeer. Daarom het sy eers later in haar lewe met musieklesse – klavier, stemopleiding en teorie – begin.

Haar talent is toevallig ontdek toe iemand haar tussen die bome hoor sing en haar oorreed het om haar stem met die wêreld te deel.

Buiten vir haar musiekloopbaan, is sy ook ’n voltydse musiekonderwyser en geniet sy dit om haar kennis en passie met ander te deel en hulle te help om hulle vaardighede te ontwikkel.

Lewer kommentaar

Leave a Reply