Heyah Mama

Te oordeel aan die buitekant van die koevert het X4 se Heyah Mama al op verskeie plekke gaan draai voor dit in my hande gestop is. Niemand wou daaroor skryf nie.

Redes hiervoor sou woorde ingesluit het soos “backtracks”, “sielloos” en “oppervlakkig”.

Toevallig het ‘n sesjarige die CD by my gesien. Die gesprek het min of meer so verloop:
Sesjarige: “Ek het hulle op Oudtshoorn gesien!” (Ek ook toevallig, wie kan nou vir Phia, Elle, Lola en Essy mis!) “Waar kry jy dit?”
Ek: “Iemand het dit vir my gegee.”
Sesjarige: “Hoekom?”
Ek: “Ek moet skryf of dit goed of sleg is.”
Sesjarige: “Hoe sal jy nou weet?”

Juis! Hoe sal ek nou weet? So begin my eksperiment dan om dit vir al wat ‘n laerskoolkind, wat ongelukkig genoeg is om dit te naby aan my te waag, te speel.

Die reaksie het my dronkgeslaan. Van die eerste liedjie af was al wat ‘n kind is dol daaroor. Die ritme slaan hulle vir ‘n ses en na twee keer se luister (hulle wil dit altyd weer hoor) ken hulle al die woorde.

Gemeet aan die potensiële mark is Heyah Mama ‘n uitstekende produk. Kinders leer tog nie lees met Karel Schoeman nie. Dit spreek van absolute kleingeestigheid wanneer iemand sekere genres en style teen mekaar wil afspeel. Diegene sal seker vir Barney kruisig en Liewe Heksie met haar besem … ons los dit maar daar.

Jy kan nie verkeerd gaan deur Heyah Mama vir jou enkelbyter aan te skaf nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply