Hooglied

Coenie de Villiers is na drie jaar terug met ‘n splinternuwe cd wat aan sy hoë musikale en professionele standaarde voldoen en die tone laat krul van pure lekkerkry. Die uitgewers JNS Musiek sê Hooglied is ‘n vars en uitdagende vrystelling wat opnuut wys waarom Coenie allerweë erken word as een van die sterkste oorspronklike stemme op die Suid-Afrikaanse musiekfront. Hooglied is Coenie se negende album. Vir die eerste keer is ‘n paar Engelse snitte bygeroer en maak hy gebruik van enkele komposisies deur ander skrywers en komponiste.

Coenie het dié keer ook ‘n buiteregisseur, Harold Schenk. “Die grootste deel van die album bestaan uit klassieke Coenie-komposisies”, sê Schenk . “Daar is steeds die pragtige liefdesballades en uitstekende liriek. Maar daar is ook ‘n snykant aan die snitte – dis nie sommer liedjies wat geskryf is vir die lekkerte nie. Coenie het werklik iets om te sê.”

Gloria Bosman en Coenie sing ‘n duet op die stuwende Curtis Mayfieldliedjie “Choice of Colours” – ‘n liedjie wat klink of dit vir Suid-Afrika geskryf is.

Brasse vannie Kaap het ‘n skitterende teksverwerking in Kaapse Afrikaans gedoen van die ou Les Cranetreffer “Desiderata”. “Die koorgedeelte het gebly,” sê Coenie, “en die resultaat is ‘n opwindende cross-over hip-hop en rapkombinasie.”

Die hele Boetmandebakel kom onder die loep in die snit “Bliksoldaat”, en die oorlogtema word verder bedink in die David Kramerliedjie “Prisoners of War”, wat Coenie beskryf as een van die mooiste en sterkste Suid-Afrikaanse komposisies ooit.

‘n Verrassing op die album is ‘n nuwe verwerking van Coenie se immergroen treffer “Karoonag” wat meer as 18 jaar gelede vir die eerste keer opgeneem is. Op die nuwe weergawe sing Lukas Maree saam.

Hooglied bewys weer waarom Coenie de Villiers nie net een van die belangrikste musikante in Afrikaans is nie, maar ook waarom hy met die groot kannonne in Suid-Afrika kan saamgesels. Die album is ‘n klinkklare voorbeeld van hoe ‘n gevestigde kunstenaar kan vernuwe en eksperimenteer sonder om sy of haar kernklank prys te gee.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply