Die bekroonde fluitspeler Malané Hofmeyr-Burger se eerste CD Air het onlangs die lig gesien. Hierdie 16-snit album bevat ‘n verskeidenheid werke van Bach tot ligter melodieë. Verskeie van ons land se top musikante speel saam met Malané op die album. Hulle is Wessel van Rensburg en Elna van der Merwe (klavier), Marc Duby en Andrei Sobolev (kontrabas), Amarillie Ackermann (harp) en Susan Mouton (tjello).
Met Air breek Malané weg van die tipiese klassieke program en sluit onder meer “The Mission” van Ennio Morricone, “Irlandaise” van Claude Bolling, “Caruso” van L Dalla en Pachelbel se “Canon” is. Die idee is om die album toeganklik te maak vir ‘n breër gehoor sonder dat virtuositeit prysgegee word.
Aan die klassieke kant is daar onder meer werke van John Rutter, Bach, Vivaldi, Gabriel Fauré en Von Weber. Die snitte op die album kry ook met die spesifieke kombinasie van instrumente en verwerkings deur Wessel van Rensburg ‘n opwindende nuwe kleur, met selfs ‘n lekker jazz inslag hier en daar.
Malané Hofmeyr-Burger het ‘n B.Musgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Haar fluitleermeester was Eva Tamassy. Sy was ook ‘n lid van die Nasionale Jeugorkes en is bekroon met talle musiekbeurse.
Malané het saam met die Stellenbosch Strykensemble na Italië getoer. In 1987 was sy die wenner van beide die ATKV-Forté en Oude Meesterkompetisies. Sy het as solis opgetree saam met ons land se groot orkeste en ensembles.
In 1988 sit sy in Wenen haar studies voort waar sy ook lid is van die Vienna Chamber Ensemble. In dié tyd neem sy ook meesterklasse by van die wêreld se voorste leermeesters. Sy was fluitspeler in die destydse Transvaalse Filharmoniese Orkes en die Nasionale Simfonieorkes, en is tans lid van die nuut-gestigte Johannesburg Filharmoniese Orkes.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
