Die doel van die fees is om gesinne bymekaar te bring deur middel van musiek. Om mense se harte aan te raak en om hulle hoop te gee vir die nuwe jaar.

Na nog ’n baie suksesvolle Desember van uitverkoopte In Afrikaans-konserte in Hartenbos gedurende 2018, kom dit as geen verrassing dat die eerste twee datums vir vanjaar se konsert reeds vasgemaak is nie.

Vakansiegangers wat ’n Kersvakansie op die Tuinroete beplan, kan vir die derde agtereenvolgende jaar uitsien na die beste musiek en vermaak op een verhoog, en kan nou reeds plekke bespreek om teleurstelling te voorkom!

“Die doel van die fees is om gesinne bymekaar te bring deur middel van musiek. Om mense se harte aan te raak en om hulle hoop te gee vir die nuwe jaar wat voorlê,” verduidelik besturende direkteur van In Afrikaans, Jacomien de Villiers. “Omdat die eerste jaar se hoofkonsertaand baie gou uitverkoop het, het ons besluit om laas jaar twee konserte te hou. Vanjaar gaan ons dit weer doen. Ons kyk ook reeds daarna om nog datums voor Kersfees by te voeg.”

Kaartjies vir dié vertonings op 27 en 28 Desember 2019 by die ATKV Amfiteater Hartenbos is nou beskikbaar vir diegene wat vinnig spring en gebruik maak van die spesiale vroeëbesprekingsaanbod op www.itickets.co.za. Toegang vir kinders onder ses is gratis en daar is ’n verskeidenheid toegangsopsies vir volwassenes, wat wissel van R170 (algemene vroeëbesprekingsaanbod) tot R260 (gouesirkel). Hekke sal om 16:00 open en die konserte sal stiptelik om 19:30 begin.

Vanjaar se konsertreeks volg in die voetspore van twee suksesvolle voorgangers, wat beide deur meer as 30 000 feesgangers bygewoon is. Dit beloof weereens om iets te bied vir elke musieksmaak en -voorkeur, van langarm-dansmusiek tot meer ernstige akoestiese verwerkings. Van die land se grootste kunstenaars, waaronder Jo Black, Robbie Wessels, Spoegwolf, Karen Zoid, Early B, Refentse, Appel, Leah, Kurt Darren, Elandré, Francois van Coke, Jan Bloukaas, Danny Smoke en vele meer sal op die verhoog te sien wees en begelei word deur ’n lewendige orkes vol topklas musikante.

“Al die kunstenaars wat gaan optree is uitstekend in hulle eie reg en daar gaan ’n paar ongelooflike saamwerkpogings ook wees tussen die kunstenaars. Daar sal iets wees vir almal se smaak, van jonk tot oud,” sê Jacomien.

Buiten vir die musiek, sal daar ook verskeie kosstalletjies en ander uitstallers, ’n biertuin en vermaak vir die kinders wees, sodat niemand uitgelaat voel nie. Verder kan besoekers ook uitsien na ’n hele rits verrassings en aankondigings wat eksklusief vir hierdie geleentheid beplan word.

“Hierdie konsert is baie uniek. Dit is nie ’n musiek-ekstravaganza nie en, alhoewel daar ’n visuele komponent is, gaan dit oor die treffers wat die publiek wil hoor. Mense kom van regoor die land in Hartenbos bymekaar en geniet die verrigtinge in ’n vrolike vakansieluim. Dit is toeskouers wat nie altyd die groot konserte in die stede kan bywoon nie en daarom is dit ’n groot geleentheid en het dit ’n baie spesiale atmosfeer,” voeg sy by.

Die konsertreeks het begin as ’n droom deur Inhoud Huis Musiek se Johan Vorster, Jacomien de Villiers en die In Afrikaansspan om ’n hoë gehalte konsert te reël, wat soos die CMA’s gaan oor die sterkte van die lied en hoe dit mense aanraak, en het ontaard in ’n reuse sukses omdat dit die kultuur en harte van Afrikaners doeltreffend kon vasvang.

Die In Afrikaans Hartenbos-konsertreeks is vir elke plesierige feesganger, wat hou van goeie musiek in hulle moedertaal, asook ’n lekker kuier en is die perfekte manier om die jaar mee af te sluit. Meer inligting sal op sosiale media bekendgemaak word, soos beskikbaar.

Lewer kommentaar

Leave a Reply