‘n Vriendin van my vertel graag van die kaskenades van haar identiese tweelingseuns, beter bekend as “Die Linge” wat mekaar nie alleen gereeld getuimeldroog het nie, maar ook vir Liewe Jesus by meer as een geleentheid in ‘n uitkenparade probeer uitvang het: “Liewe Jesus, wie dink Jy bid nou? Is dit Dean of Deno?”
Of Liewe Jesus vir hul trieks geval het of nie sal ons nie weet nie, maar vandag, 20+ jaar later is die twee jong mans uiteenlopende individue met unieke persoonlikhede, talente en geite, ten spyte van die feit dat hul identiteitsnommers met een syfer verskil en hulle meer as heelparty letters van die alfabet in hul name deel. Trouens, sou hulle ‘n misdaad pleeg kan DNA-toetse nie eers as bewyslas gebruik word nie. Vinkel en Koljander. Wie slaan die kitaar? Dié een of die ander?
Die anderdag vertel ek hoe dit nou nog, byna twee jaar na my Pa se dood, voel of ek aan ‘n lewendige 220 Volt kabel kou elke keer as ek ‘n konsertina hoor speel en ek wonder oor hoe lank dit gaan vat voor ek met nét lekkerte en trots na sy kosbare musieknalatenskap kan luister sonder dat ek hom so erg mis dat ek wens ek was ‘n moordwalvis wat kon kies of ek wou asemhaal of nie. En wrintiewaar, skaars het ek die woorde geuiter of my telefoon lui.
Hier moet ek vir ‘n oomblik my vertelling onderbreek om ‘n interessantheid waarop ek onlangs afgekom het met die leser te deel, gegee die feit dat niemand meer Chappies-papiertjies lees nie en die gemiddelde persoon se algemene kennis in hierdie donker eeu van informasie-armoede besig is om te kwyn.
Het u geweet: Die eerste telefoon is in 1878 deur Adolph Boettger na Suid-Afrika ingevoer.
Terug na die telefoonoproep. Dit is van ‘n skoolvriendin van wie ek in 1879 laas gehoor het.
Skoolvriendin met telefoon: “Sit jou TV aan!”
Isabella: “Hallo, goed om van jou te hoor na al die eeue.”
(Nota aan self: verander Facebook-profiel om aan te dui dat ek nie televisie besit nie.)
Skoolvriendin met telefoon: “Kanaal 887. Radio Pretoria”.
Isabella: (Voel verward en gedisoriënteerd oor opdrag: Skakel televisie aan om na Radiokanaal te luister. Nota aan self: onthou om “watching to radio on television” te google.)
Skoolvriendin met telefoon: “Ek sien jou pa het ‘n nuwe CD uitgebring!”
Isabella: 200 mA stroom vloei deur stopsels. (Nota aan self: google “false memories” en gaan kyk op tuisrekenaar onder: My documents/Persoonlik/Begrafnisbrief_Pa_Jan2016.)
Skoolvriendin met telefoon en noot van histerie in stem: Dit heet “In die voetspore van Marius Louw”!
Isabella: (Nota aan self: maak seker van datum van eerste telefoonverbinding in Suid-Afrika.)
Skoolvriendin met telefoon en nuanse van klikkiebekkigheid in stem: “ ‘n Ene Jan Jacobs het dit vrygestel.”
Isabella: (Nota aan self: Kontak neef Jan van wie in jare geen woord of tyding ontvang is nie ten einde vas te stel of hy ‘n selfoon het. Google ook “selfoonopvangs + Pretoria”.)
(Doen-dit-dadelik lysie: Skryf brief aan Trui Louw en kinders waarin genoem word dat ‘n CD met musiek van hul geliefde afgestorwe eggenoot, pa en oupa uitgereik gaan word. Onderteken namens Jan Jacobs, vlieënier en vryskut na-aper en rugryer. Onthou om self gefrankeerde koevert in te sluit.)
Na ek ‘n ruk stilgesit het en probeer sin maak het van die vreugdevolle tyding wat deur ‘n wildvreemdeling aangekondig is — (nota aan self: onthou om te onthou om nie aan te hou probeer vergeet hoe sy groot hande ‘n konsertina soos ‘n makgemaakte meerkatjie vasgehou het nie) — het ek teruggedink aan die Linge en hul personifikasiespeletjie en die beeld van Neef Jan as klein seuntjie, oopmond van verwondering en kwylend soos ‘n honger kind aan my pa se voete wanneer hy musiek gemaak het, het skielik by my opgekom. Ek moes lag oor hoe ons spottenderwys na hom verwys het as die “oopbekdoodsengel” na aanleiding van die karakter in Koöperasiestories.
(Nota aan self: Stuur gelukwense met vrylating van CD getiteld “In die voetspore van Marius Louw” aan Neef Jan namens Louw-gesin. Skryf ook boodskap van bemoediging en aanmoediging deur melding te maak van opmerking wat my oorle pa op gereelde basis oor hom gemaak het. Haal aan: “Dit moet ek die mannetjie toegee, hy probeer hard.” Sluit af deur hom aan verhaal van Linge te herinner en hom gerus te stel dat net Liewe Jesus weet wie regtig die konsertina speel en dat as hy belowe om nie te sê nie, ons ook niks sal sê nie.)
(Heel laaste nota aan self: onthou om Neef Jan te waarsku teen vasval. Die voetspore is nogal diep.)
JAN JACOBS. Dit is n skreiende skande. Geen mens op aarde kan in Marius Louw se voetspore volg nie, veral nie jy nie,,,,, !!!! En dit nog met n konsertina?!!! Gert van der Merwe.