“He might make mistakes, maar hy bly altyd great … and remember my friend not all heroes wear capes …” is van die tong-in-die-kies lirieke uit Jack Parow se splinternuwe treffer, “Super Van”, wat spesiaal geskep is om die temalied van die rolprent – Van der Merwe – te wees, wat binnekort op die grootskerm te sien is.
Net soos die komiese ikoon, op wie die fliek gebaseer is, het dié bekroonde kletsrymer dit reggekry om vir homself ’n stewige plek in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te vestig. Jack Parow, oftewel Xander Tyler, het bekendheid verwerf vir sy liedjie “Cooler as Ekke” wat in 2009 uitgereik is en onmiddellik opslae gemaak het. Verskeie suksesvolle albums, musiektoekennings en treffers, asook ’n brandewyn-handelsmerk (Parow Brandy) later, is sy loopbaan steeds besig om te groei en is hy heel in sy noppies om deel te wees van hierdie projek. “Ek was super amped to hulle my nader, want ek love Van der Merwe en almal wat deel is van die fliek. Rob is ’n amazing akteur en ek het geweet dit sal cool wees om betrokke te raak hierby, omdat ek grootgeword het met Van der Merwe-grappies,” vertel die musikant. “Die liedjie gaan oor Van en sy vibe. Nie net noodwendig oor alles in die fliek nie, maar ook my take op die Van der Merwe waarmee ons almal groot geword het. Dis ’n snaakse, fun song, waarby almal sal aanklank vind.”
“Ek wou graag hê dat die temalied van Van der Merwe, een van Suid-Afrika se grootste legendes, deur een van die land se grootste musieklegendes, Jack Parow, gesing word,” sê draaiboekskrywer, vervaardiger en regisseur, Bruce Lawley. “Sy lirieke en sin vir humor is vlymskerp en ek het geweet dat hy iets sou skep wat gepas is vir die humoristiese tong-in-die-kies-aanslag van die fliek. Die liedjie is spesifiek vir die film geskep en gaan oor Van, die man, mite, legende en dit wat vir hom belangrik is. Dit vang die karaktereienskappe van die hoofkarakter perfek vas en die lekker-luister wysie en slim lirieke gaan ’n treffer wees onder oud en jonk.”
Van der Merwe, met Rob van Vuuren in die hoofrol, speel af op ’n plaas in Suid-Afrika. Dit vertel die verhaal van Van se dogter, Marike (Reine Swart), wat terugkeer na ’n oorbruggingsjaar in England. Maar sy is nie alleen nie. Haar verloofde, George, ’n Britse mediese student is aan haar sy. Dit skep die perfekte geleentheid vir talle probleme en uitdagings. Van moet nie net daarmee vrede maak dat sy enigste dogter met ’n Engelsman gaan trou nie, maar word ook deur sy moeilike, tradisionele pa beveel om dié verhouding te beëindig. Dit plaas hom in ’n baie stresvolle situasie en los hom met ’n moeilike besluit: staan hy op teen sy pa en aanvaar die troue… of gehoorsaam hy sy pa, wie se goedkeuring hy bitter graag wil hê, se bevel wat kan beteken dat hy sy dogter vir altyd kan verloor. Wanneer die aanstaande Britse skoonfamilie opdaag, word daar behoorlik kop gestamp. Dit ontaard in ’n kultuurstryd en lei tot verskeie kant-kies-insidente en ander skreeusnaakse gebeure, wat lewe gee aan die klassieke Van der Merwe-grappies wat ons almal so goed ken. “Elke land het iemand met wie hulle spot. In Ierland is dit Paddy, in Israel is dit Hymie en in Suid-Afrika, is daardie persoon Van der Merwe … hierdie storie gaan oor hom. Ek wou ’n fliek maak oor ’n enkele karakter, soos ‘Ace Ventura’ of ‘Zoolander’, maar met ’n Suid-Afrikaanse aanslag. Van is deel van ons kultuur, ’n karakter met wie ons almal kan vereenselwig. Hy het ’n geskiedenis en ’n plek in ons harte. Om aan hom lewe te gee, op die grootskerm, is iets wat almal graag wil sien”, sê Bruce.
Hierdie ligsinnige prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid interessante karakters, wat spesiaal geskep is om Van se tekortkominge te beklemtoon. Bekende aktrise, Chanelle de Jager, vertolk die rol van Van se vrou, Suzette, wat vasberade is om die situasie te red. Ian Roberts speel die dominerende Oupa Van, wat beslis die gehoor se aandag sal trek. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen, om maar net ’n paar te noem. Kurt Darren maak ook ’n verskyning as spesiale gas as ’n sanger by die troue en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van se beste vriend.
“Van der Merwe is ’n goedvoel-fliek vir die hele familie. Ons wil hê dat mense die bioskoop moet verlaat met ’n glimlag en die positiewe boodskap dat alles oukei sal wees, ongeag van jou omstandighede of tekortkominge. Maar dan moet jy vir jouself kan lag. Jy kan die lewe nie te ernstig opneem nie. Bly getrou aan wie jy is, moenie moed opgee nie en hou altyd aan met glimlag,” meen Lawley.
Van der Merwe beloof om kykers te laat skaterlag met skreeusnaakse familie- en kultuurkonflik, ongemaklike situasies, en katastrofes wat die Van der Merwe-titel meer as gestand sal doen. Dié rolprent, wat vervaardig is deur Craig Jones, Bruce Macdonald, Murray Macdonald en Bruce Lawley, word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landswyd vrygestel word op 28 Julie 2017.
(foto: Allister Christie)