Afrikaanse sanger-liedjieskrywer Jaid River is terug met haar tweede enkelsnit van 2025 – en dié keer is dit iets besonders. Haar nuwe lied, ‘Marionet’ is nie net ‘n kragtige en introspektiewe snit nie, maar ook die titelsnit van haar nuwe EP.
“Alhoewel ek weet dat ‘Marionet’ glad nie ’n tipiese enkelsnit is nie, was dit vir my belangrik om hom só vry te stel,” sê Jaid. “Dié liedjie het vir my die EP bymekaar gebring – dit is die hart van die projek.”
‘Marionet’ is aan die einde van 2022 geskryf en is die eerste keer op die verhoog uitgevoer tydens Jaid se ‘Verlanger’-albumvrystelling in Maart 2023. Die idee vir die liedjie het ontstaan na Jaid ’n paar gesprekke met verskillende mense gehad het oor die algemene gevoel van ongelukkigheid in hul werk en lewens. Sy het begin wonder daaroor en in haar gedagtes geworstel met vrae oor vryheid, keuses, en die dinge waaraan ons onsself bind as mense.
“Ek het ’n prentjie in my kop gekry van ’n marionet – ’n pop vas aan toutjies wat in verskillende rigtings getrek word. Die vraag wat by my opgekom het, was: ‘Is ons gebind aan dit waaraan ons gebind is uit nature, of kies ons waaraan ons onsself bind?’ En as ons kan kies – hoe lyk daardie keuse?”
Die opname van ‘Marionet’ was volgens Jaid die mees uitdagende produksieproses tot dusvêr. Die lied is drie keer van voor af begin in verskillende toonsoorte en style, en elke weergawe het heeltemal anders geklink. Uiteindelik is dit in Mei 2025 voltooi by Jaco Smit Music Studios in Midstream, Pretoria.
“Ek het ’n baie spesifieke gevoel in gedagte gehad – ek wou spanning, styfheid en ’n bietjie ongemak vasvang. Die produksie moes pas by die boodskap van die lied.”


Wat ‘Marionet’ onderskei van Jaid se vorige werk is haar keuse om van gesofistikeerde elektroniese klanke weg te beweeg en eerder op akoestiese instrumente en detail te fokus. “Dis baie meer ingetoë, organies en opreg as enige van my vorige enkelsnitte. Dis ook my eerste wals,” sê sy met ’n glimlag.
Die wat haar werk ken, sal weer haar kenmerkende lirieke in ‘Marionet’ raaksien – eerlik, introspektief en gevul met betekenis.
“‘Marionet’ is een van my gunsteling musikale samestellings nóg,” sê JAID. “Ek hoop die storie en lirieke beteken iets vir mense.”

Jaid River 2025 foto: GP van der Merwe
Jaid River, foto: GP van der Merwe

Lewer kommentaar

Leave a Reply