Wanneer twee gewilde en geliefde musikante kragte saamspan om ’n besonderse liefdesliedjie op te neem, kan die eindresultaat niks anders as betowerend wees nie.

“Beter vir ons albei” is hartroerende popliedjie, uit die ateljee van Gideon Botes, wat gaan oor die bakens wat jy vir jouself in die lewe plaas sodat jy kan onthou hoekom jy hier is en wat jy moet doen.

“Na ’n optrede so ’n paar jaar gelede, het ek die slegte nuus gekry dat een van my vriende se pa oorlede is. Hy was iemand na wie baie mense opgekyk het en ek was net in hierdie gat. As iemand doodgaan wat so ’n groot impak op mense se lewens gehad het, laat dit ’n groot leemte en ek het al hierdie vrae gehad vir God. Die lewe is so onseker en ’n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie. Ek het by die gastehuis gekom en met my kitaar op die kombuisvloer gaan sit en gevoel hoe God vir my sê dat vir ingeval jy vergeet, moet jy ’n knoop in jou oor maak en onthou,” verduidelik Joshua na die Reën, of te wel Jacques de Villiers, wat die liedjie geskryf het. “Vir my, voel dit asof God hierdie oomblikke skep waarin ons alleen kan wees saam met hom en dit raak die bakens wat jou herinner.”

Volgens De Villiers, wat vir Karlien van Jaarsveld jare gelede ontmoet het toe hy vir haar broer klavier gespeel het, was die idee om die snit saam met haar op te neem eintlik sy vrou, Danelle, s’n. “Toe ek die lied vir haar speel, het sy gesê sy hoor Karlien se stem daarin en ek het dadelik geweet dis wat moet gebeur. Ek was baie bly toe sy instem om dit saam met my te doen.”

Vir hom is dié samewerking ’n groot voorreg omdat hy groot waardering het vir haar menswees, talent en stem, en ook omdat hulle albei die persoon geken het oor wie die liedjie gaan. “Dis nou nie ’n duet wat mense sou verwag het nie, maar ek bewonder iemand wie se uitkyk oor musiek nie net is om vermaak te wees nie, maar iets moois en heilig na die wêreld te bring,” sê hy.

Beter vir ons albei

Van Jaarsveld stem heelhartig saam en meen dat sy baie gemaklik gevoel het om saam met Joshua na die Reën te werk. “Hy kyk anders na die wêreld, sien meer as net dit wat voor hom staan en laat jou toe om net jouself te wees. Hy is ’n diep denker, soos ek, en so musikaal! Definitief een van my heel gunsteling kunstenaars,” voeg sy by.

’n Musiekvideo, wat gebou is rondom ’n aangrypende lewendige optrede, is nou ook te sien. Buiten vir die twee kunstenaars wat mekaar met gemak op die verhoog aanvul, is slim beligting ook gebruik om die teer emosie van die lied te komplementeer en die eindproduk hou kykers vasgenael totdat die laaste note wegraak.

“Beter vir ons albei” val sag op die oor, praat behoorlik met die hart en is beslis een van daardie liedjies waaroor musiekliefhebbers nog lank gaan praat.

“Ek dink mense hou van musiek en ’n boodskap waarmee hulle kan vereenselwig en hierdie is beslis so ’n liedjie. Dit sal jou ook herinner om te soek na hierdie oomblikke waarin jy alleen is en vrede het en waarin jy werklik by die kern uitkom van wie jy as mens is,” sluit Joshua na die Reën af.

Joshua na die Reën Karlien van Jaarsveld Hendri van Skoll Photography
Joshua na die Reën en Karlien van Jaarsveld, foto: Hendri van Skoll Photography

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply